Blog

Koue weer en brannas by Oudepost

Die naweek is op ons en die gatte jeuk alweer hard en aanhoudend om iets êrens in ons pragtige land te gaan aanvang. Francois reël dat hulle strandhuis by Oudepost in die Weskus Natuur Reservaat oop is vir die naweek en die ou mense sal nie ‘n probleem hê as ons die naweek daar afhaak nie.

Die plekkie het geen krag nie en as jy ‘n spoegmasjien van formaat is kan jy tot in die water spoeg so naby is jy. Aan die oorkant is Langebaan en sy liggies en Francois reken dit neem hom so +/- 8 min om met hulle boot, Seemeeu, oor te ry…maar meer daaroor later in die artikel.

Saterdagoggend is dit in die bakkie en reguit Weskus toe. Die res van die spulletjie het al die vorige aand deurgeskiet en met diè wat ek daar aankom kan mens sien daar was sommer groot gevat die Vrydagaand. Party van die knape lyk of hulle hard sukkel…

Die eerste koppie gif (brannas & coke) word sommer vroeg geskink terwyl dit liggies reën oor Langebaan se lagoon. Die weer is maar sleg en hulle voorspel groot winde vir die naweek so ons hoop maar hierdie huis staan sy man. Maak kontak met Oros en Riaan anderkant die water (dit is nou in Langebaan) en die manne reken ons moet kom, ons moet sommer nou kom want hulle is oppad Kaktus toe waar ons die groot Super 14 finaal tussen die Bulle en die Sharks gaan kyk. Die aanvanklike plan sou gewees het dat ons so met die bote (Jacques en Rev sou hulle bote ook gebring het) sou oorgaan, maar die weer het daai opsie aan flarde laat spat en daar word besluit om te ry.

Die aarde maak bo ons oop en die water kom nou woes af. By Kaktus loop ons die groot seun Oros en sy sidekick Riaan raak en soos tradisie nou al bewys het loop die klein glasies gif (shots) soos water. Skuif op na die boonste bar waar dinge net rowwer raak. Rev reken dit is tyd om sy Guns of Never Ending Peace (in kort is dit nou sy uber bonatuurlike krag) te toets teen Oros. 1 2 3 en Rev blok homself en is in ‘n greep waar hy sy eie poepol kan soen as hy regtig wil.

Oros 1, Guns of Never Ending Peace 0 (dink Rev treur nogsteeds oor die statistiek)

Die game loop soos ‘n jet en mens kan nie vir n beter finaal gevra het nie. By die tyd was ou Parma al twee keer in die bakkie gesit weens verpletterende laagvatte van Bacchus wat hom effens onstabiel gemaak het…whahahaha…whahahaha…en so val die helde…

Na die game is die hele spul weer huis toe waar ou Jacques ‘n vuur van formaat aanmekaar geslaan het. ‘n Poker stel maak sy verskyning en so paar slaan ‘n oop spot langs die tafel los. Soos ou Jacques ‘n watertand vleispotjie aanmekaar slaan trek die weer oop en ek begin ‘n bonatuurlike lus kry om nou oor hierdie water te gaan met daai bootjie van Francois-hulle. Die son begin stadig sy gat sien so as daar ‘n gap is, is dit nou. Francois hanna hier en hanna daar en ek en Vic wil net water toe. Ou Jacques laat ook loop van die kospotte se kant dat dit moontlik is met die huidige weer situasie en as ons wil gaan moet dit nou wees.

So ontaard die hanne hanna vir amper ‘n uur lank en ons verloor ons window of opportunity. Maar ons gaan dit nie daar los nie. Daai boot moet water toe al ry ons net hier in die rondte. Ou Jacques en Francois doen finale checks op die boot voor die bakkie hom haak en water toe sleep. Water is onmenslik koud en by die tyd is dit nou al solid donker buite. In die boot, skop die engine aan die gang en daar sleep ons. Nee magtig, maar die ding het meer krag as wat ons gereken het en die spyt slaan my seer tussen die bene dat ons nie gegaan het vir die Langebaan wal nie, maar ons Skipper Francois, wat homself aspris natgespat het sodat hy rof en onbeskof kan lyk, het ons planne met ‘n broodmes stukkend gesny. Rev en Jacques is ook later op die boot en na so paar draaie is die snaaksigheid ook op ‘n einde en is dit huis toe om hierdie sekondêre poging van ons te vier met tonne brannas en coke.

Jacques se bobaas pot het die moegheid solid in my losgemaak en na ‘n groot dag se rugby en Francois se gatlek om ons oor die water te neem, het ek die swaard neergelê.

Francois, groot dankie vir jou dapper besluit om ons te nooi na jou ouers se strandhuis. Ons wou regtig die sterkte van die storm getoets het en al julle meubels buite toe gedra het, maar dit is darem nie reg om dit op die eerste besoek te doen nie…dalk maak ons so die tweede keer!!

Dankie ook aan die res (Francois, Vicky, Mauritius, Elizca, Rev, Merlene, Parma, Marina, Jacques & Carliese) vir ‘n kickass naweek. En dan ook aan Oros en Riaan wat ons amper gebreek het by Kaktus, maar wel vir Parma planke toe geneem het…whahaha!!!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *