Blog

Ek vs ‘n heining paal (dropper)

Hoekom kan ‘n normale braai nooit rustig of net normaal eindig nie? Dit is altyd een of ander nuwe ekspidisie / avontuur wat eers gedoen moet word voor jy mag huis toe gaan.

So hou ons Vrydagaand soos gewoonlik ‘n lekker rustige braaitjie by Parma op die plaas net so duskant Philadelphia. Almal is besig met hulle laaste knertsie en dan is dit die pad terug huis toe.

"Nee donder manne ons kan nie nou gaan slaap nie. Kom ons gaan jag so bietjie ystervark. Die wetters f*k ons lande op en die baas het gereken ons moet maar uit haal waar ons kan."

Ja Parma, ek het sommer geweet jy gaan met so ‘n plan vorendag kom. Amy se Colt het nog nie sy bande vuil gemaak op die lande nie en Parma besluit om die girljie so bietjie te wys hoe om ‘n bakkie op ‘n jagekspidisie te neem. Ek, Marli en Boerbok is agterop gewapen met twee fris droppers (daai ‘klein’ heiningpale) en ‘n 2L premix bottel (brannas en coke) terwyl Parma voor by Amy sit.

Nes ons deur die tweede plaashek skiet gewaar BoerBok (BBk) die wetter van ‘n ystervark in die kamp regs van ons. Soos een man is ons altwee af van die bakkie terwyl Marli maar verder teug aan die premix. Ek is reguit op die knaap af terwyl BBk van die regterkant in ‘n klassieke ‘pincer movement’ kom. Sukkel so bietjie om my pens deur die (*@*$# draad te kry en soos ek deur is skop ek my traction control aan en dit is ek en ystervark se kind.

Ek hoor BBk se stem aan my regterkant en ek hoop en wens net die vet rot sien my want ek wil nie hê hy moet my vanaand met ‘n paal beet kry nie.

Parma is by die bakkie en werk daai sterk spotlight vir ‘n vale. Skielik is die klein wetter net weg. Parma gooi die lig so bietjie oor die lande en wragtig so 10m aan my linkerkant staan die klein k*k. Ek skiet daar weg soos ‘n jaghond en dit is net penne en modder wat vlieg soos ek en vark se kind gillende deur die land gaan.

Plaas dat Parma die lig vir my skyn dat ek sien waar ek moet hol, hou die vet wetter die ding op die vark. Die wêreld is woes donker en ek sien net hierdie verligte vark wat voor my hol.

Ek gee my alles en die afstand tussen ons twee raak al hoe korter…

5m, 4m, 3m, 2m…stof, snot, klippe, beeskak, dropperpaal en ‘n SIMPEL muurshoop wat ek nie gesien het nie en dit is een standaard Henry Jonker wat gat oor kop grond toe kom. Broertjie, ek val myself in ‘n ander bloedgroep in. Ek hoor net hoe die aarde bewe soos BoerBok so paar meter regs van my verby sleep.

Wat de hel het nou gebeur wonder ek? Alles is stil om my en jy hoor net ‘n bakkie in die verte en gille soos iemand die lewendige hel uit iets jaag. Soos ek opstaan voel ek die warm bloed op my gesig. Ek probeer keer maar besef iets is nie so lekker nie. Tel my dropper op en takel die lang, eensame wandel terug deur die lande doer na waar die bakkie by die ander klomp staan.

"Wat de donder het jy gedoen Jonker? Wou jy die ding dood duik of wat?" peper ou BBk my.

Soos hulle die lig op my gesig sit kan ek sien hoe Marli se oë amper by haar kop uitpeul. Ystervark se kind wat ek gejaag het lê langs die bakkie en het toe nie die grensdraad gemaak nie want Boerbok het om in ‘n ander ewigheid ingehelp.

Terug op die bakkie en dit moet nou eers terug plaas toe om die bloeding te stop voor ons verder jag. By die huis reken Parma en BBk hulle het al genoeg ER gekyk om te weet hoe en wat om te doen as iets bloei. Aaai dit was n groot fout. Parma het geen onsmettingsmiddel nie, toe haal BBk maar die tweede beste ding uit sy koelkas uit – Mampoer. 75% proof. BBk hou my kop terug en keer met ‘n waslap dat die kak nie in my oë invoeter nie. Voel amper of iemand kole in my onderbroek invoeter en die brand word aangehelp sommer met ‘n sluk of twee net om die pyn te verdoof…

Bloeding is gestop, maar ek sal ‘n draai by die hospitaal moet gaan maak. Paar minute later jaag Tigger en Marli die Durbanville se Medi Clinic met ‘n moerse gejuig binne. My lip en kop is beide stukkend en dit lyk of ek nou net uit ‘n moerse fight kom. Vertel my hele storie vir die dokter en nes ek my storie klaarmaak haak die knaap af: "OK boeta vertel ons nou maar die regte storie want daai klink so bietjie deur die k*k, want wie sal dit nou ooit doen??"

Beide ek en Marli het maar net gesmile en gedink dat die dokter nog nie ons Willeklong palle ontmoet het nie.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *