Blog

Paasnaweek in die Karoo

Met die dat ons oor twee maande op ʼn 3 weke toer gaan wees, sou ons aanvanklik maar laag gelê het tuis, maar so twee weke voor Paasnaweek besluit ek dit gaan nie deug nie en stel die seuns in kennis dat dit weer tyd is dat hulle en “verlate plekke” mekaar weer ontmoet. Toe ek dit noem kon ek sien Jean dink terug aan sy eerste besoek aan Verneukpan en hoe hy stom geslaan was dat daar letterlik NIKS was nie.

Vrydagoggend (19 April) so net na 10am trek ons die 80 Series se neus in ʼn Noord-Oostelike rigting op pad na Touwsrivier. Ons sou die 1st aand van ons 4 dae lange reis by Gecko Rock Private Reserve oornag. Hierdie was my en die seuns se tweede besoek, maar wel ʼn eerste vir Marli gewees.

Met die dat hul reeds vol bespreek was het die eienaar, Sharon Deal, aangebied dat ons van hulle boskamp gebruik kan maak. Die boskamp bestaande uit ʼn groot boom in die middel van nêrens omring deur bosse wat perfekte beskutting teen die wind (wat later sou lastig raak) gebied het.

Paasnaweek in die Karoo


Soos altyd was die seuns in hulle element en toe die deure oopvlieg is hulle soos vasgekeerde katte die vlaktes in. Alhoewel ek dit baie geniet om saam met vriende nuwe plekke te gaan ontdek is tye soos hierdie saam met die familie met niks en niemand om jou nie, sielskos.

Gou moet die seuns leer hul speel of saam, of dit gaan ʼn LANG 4 dae vir hulle wees, want pappie dit is net ons en ons alleen.

Paasnaweek in die Karoo

Met die dat die wind katterig was het Marli maar besluit om nie die bos stort van Budu Showers te probeer nie, maar dit het natuurlik my en die seuns nie gestop nie. Die ding moes getoets word en dit is nie net vir verniet die ding saam ry nie.

Toe die son sy laaste strale terug trek oor die Karoo koppies, was dit ook ons teken om tent se kant toe te staan.

Saterdagoggend en die spannetjie is vroeg aan die beweeg. Ons volgende stop is Laingsburg waar ons ʼn paar aankope doen voor ons op die R323 klim na Zoar. Die 1981 vloedtekens in Laingsburg se hoofstraat herinner my altyd hoe magtig die natuur kan wees en dat ons haar ten alle tye moet respekteer.

48km buite Laingsburg op die R323 stop ons by Porcupine Rest Camp en was eers die stof uit die mond met ʼn koue verversing. Seuns verwar lus met verstand en kry amper hartaanvalle toe hulle die water in die swembad aandurf.

Paasnaweek in die Karoo

By Seweweekspoort word daar gestop en middagete geniet voor ons weer aanstoot. By Zoar draai ons links en volg die R62 tot so 25km buite Calitzdorp waar ons regs draai by Smits Winkel. 7km verder op die grondpad en ons stop voor Amber Lagoon se hek.

Susanne (eienaar & Duitser) verduidelik waar ons kan kamp en kort voor lank staan ons tydelike woning (daktent & pop-up tent) vir die aand.

Paasnaweek in die Karoo

Terwyl die seuns besig was met hul verkenning het Marli voordeel van die stilte geneem en solank begin met die volgende dag se ontbyt – Jaffles. Dit was wel van korte duur, want toe die twee knapies terug is en hul sien ʼn bak vol Jaffles moes Marli net keer anders sou hulle alles opgeëet het.

Laatmiddag word die vuur aangesteek terwyl stories, ruimpies & grappies geruil word.

Sondagoggend so net na 8am klim ons op die sement pad De Rust toe via Oudtshoorn. By Dyselsdorp se bordjie draai ons regs en volg die grondpad tot by die plaas, Koutie, waar beide my ouers se gedenkklippe op die ou beeskraalmuur rus.

Paasnaweek in die Karoo

In die kraal doen Jean vir ons ʼn gebed voor ons Marli se Jaffles langs die pad geniet. Terug in Oudtshoorn het ons koffie gaan drink by ʼn spesiale dame wat onlangs haar 90st verjaarsdag gevier het, my ouma. Daarna is ons gou na Wilgewandel vir middagete en waar die seuns ook bietjie kan speel voor ons weer aan die beweeg is na die volgende kamp.

So paar km terug op die R62 na Calitzdorp draai ons links by die Volmoed bordjie en volg die teerpad tot ons die afdraai kry vir Paardebont. Van hier volg ons die kronkelende grondpad tot by Oom Louis Jordaan se plaas, Minwater.

Die wêreld is droog maar oom Louis se persoonlikheid is soos die van ʼn jong man – lewendig en sy liefde vir die veld is sommer duidelik sigbaar. Die tweespoor pad na die kampplek moet definitief nie met ʼn laevryhoogte voertuig aangepak word nie.

Minwater bestaan uit twee kleiner kampe (perfek vir ʼn gesin) en dan ʼn groot kamp wat heelwat mense kan akkommodeer. As daar ge-shower wil word moet jy eers water in die groot ketels kook en dan van die shower sakke gebruik maak wat ʼn eerste vir Marli was.

Paasnaweek in die Karoo

Terwyl ek en Marli gou alles staande kry neem oom Louis die seuns die veld in op ʼn verkenning. Sy kennis en passie vir die natuur is aanloklik en mens kan vir ure na sy stories/verhale luister. Sy kennis asook sy liefde vir fotografie kan gesien word in vele natuur boeke.

Laatmiddag na ʼn lekker sak shower word daar vuur aangesteek en die speletjies nader getrek.

Paasnaweek in die Karoo

Altyd ʼn voorreg & ʼn belewenis om saam met my familie te reis en nuwe plekkies te ontdek.

Kliek hier vir nog foto’s van ons Paasnaweek in die Karoo.

7 Comments

  1. Boere

    Amazing trippie ouboet!

  2. Lydia Corbett

    Stunning!

    1. BUNDU SHOWERS (Robert Hurn)

      Lekker leesstof!
      Die foto’s maak dat mens eintlik sommer alles net wil los en onmiddelik pak en laai vir ‘n onbeplande wegbreek.
      Ek is bly jy kon die Bundu Shower toets, lyk of julle dit baie geniet het! ??
      Ek sien jy het op ‘n pallet gestaan, slim! Ons gebruik sommer ou rubber kar matjies, werk ook lekker. Dankie vir die noem van die Bundu Shower in jou blog, dis lekker om terugvoer te kry oor die produk.

      Great Foto’s en GREAT BLOG!

      GROETE, Robert Hurn.
      072 504 9580
      http://www.bundushowers.com

      1. Henry Jonker

        Regtig ‘n puik produk Robert. Kan dit definitief aanbeveel.

  3. Louis Jordaan

    Pragtige foto’s van pragtige plekke! Jou kommentaar en vertellings maak my sommer van voor af lus om ander plekke te verken. Ek het julle besoek en julle opregte belangstelling in die natuurlike omgewing geniet en waardeer! Dankie vir jou mooi opmerkings oor Minwater en myself. Sien uit na julle volgende besoek!

    1. Henry Jonker

      Sal definitief weer kom kuier oom. Groete

  4. Vic

    Nuwe herhinneringe gemaak. Wel gedaan..

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *