Blog

Naweek by Postberg Reservaat

Dat 2020 een mal jaar is, is ʼn relatiewe begrip om die minste van die jaar te sê, veral die laaste maand.

Dit was tyd om die kop weer skoon te kry, maar meer belangrik om die seuns weer aan die beweeg te kry; weg van die huis en al die geraas. ʼn Onderwyser kan hulle ook net soveel leer in die skool, maar naweke is daar om hulle te leer van die lewe, ons mooi land en die plek wat ons Afrika noem.

Soos 90% van alle wegbreek naweke was ons ʼn paar vrinne wat om ʼn tafel gesit en teug het aan ʼn koue bier toe die datum en eindbestemming gefinaliseer word.

Ek kry soms die vraag of stelling van mense: “ maar Henry jy is heeltyd weg naweke?”. Ek dink mense is soms onder die indruk dat om weg te breek vir ʼn naweek baie duur is, maar inteendeel kos dit my meer soms om tuis te wees.

Of jy nou saam met vriende tuis om ʼn vuur staan, gepak met skaaptjops, of as jy êrens in die Noord Kaap op ʼn verlate, dorre kampplekkie staan is omt’ ewe. Al wat dit kos is om ʼn datum te kies, mense wat naastenby soos jy ge “wire” is en dan ʼn groot pot “let’s go” houding. Die res sal vanself gebeur. 

Weekend @ Posberg Nature Reserve

Ons lang maat, Lourens Hugo, se familie het ʼn huis by Postberg Natuur Reservaat. Met slegs 49 huisies (aandeelhouers) in die hele reservaat en ʼn ongelooflike uitsig oor Langebaan se lagoon kon mens nie vir ʼn beter bestemming gevra het nie. 

Ons spannetjie vir die naweek was:

  • Groenewald’s (Jacques, Carlize, Rialé & Trus)
  • Hugo’s (Lourens, Josua & Loumari)
  • Laubscher’s (Frans & Lunay)
  • Jonker’s (ek, Jean & Lian)

Vrydag laatmiddag vertrek ons by Villamar en kry Frans en sy beter helfte Lunay net buite die dorp. Die VHF radio’s kry lewe en die seuns is opgewonde en die vrae hou nie op oor wat die planne vir die naweek gaan wees nie.

Na ʼn vinnige stop by Darling om die laaste goedjies te kry is dit nog so +/- 33km tot by die afdraai van Postberg Natuur Reservaat. Van daar is dit nog ʼn verdere 22km tot by ons bestemming.

Elke Vrydagaand (soos enige toer of naweek weg se eerste aand) is maar altyd die grote. Die vuur brand groot, vrouens gesels lekker, kinders is êrens doenig en dit voel of die manne mekaar jare laas gesien het soos daar goed bespreek word terwyl die roosters kreun onder die vleis.

Weekend @ Posberg Nature Reserve

Saterdagoggend word afgeskop met ʼn vinnige koffie en beskuit voor die bakkies weer aan die beweeg is, die keer om die reservaat bietjie te gaan verken.

Laatoggend, na ʼn helse “brunch” is die spul water toe om aas te gaan trek want daar is ‘n geweldige lus vir groot visse vang. Ons het mos twee geleerde vissermanne in ons geselskap en die knape het leiding gevat om seker te maak daar was vars vis op die roosters daardie aand. Maar aai, geluk was nie aan hul kant nie en slegs die seuns het twee klein Klipvissies uitgetrek. 

Weekend @ Posberg Nature Reserve

Gelukkig het Jacques darem ʼn Plan B gehad: hy en sy raakvat makker, sy vrou Carlize, het die aand ʼn ongelooflike seekos gereg (Swart Mossels, Prawns, Shrimps, Tentacles en Rooi Stompneus met rys) aanmekaar geslaan binne ‘n oogwink.

Goeie mense, ongelooflike samesyn, uitsigte sover soos die oog kan sien oor die waters, kinders se gelag in die agtergrond – soms moet mens net stil staan en besef hoe bevoorreg mens is, al voel dit soms die wêreld val om jou neer. 

Weekend @ Posberg Nature Reserve

Sondagoggend was die Vrydag en Saterdag se lastige wind iets van die verlede. Terwyl daar vuur gemaak word vir “brunch” buite, verkas die kinders en die kajak water toe. Na ʼn paar roosters wors en ‘n lekker rustige oggend langs die waters begin daar stelselmatig skoongemaak word om weer in die pad te val.

Sondag so net na middagete is ons veilig tuis in Wellington.

Kliek hier vir ʼn paar kiekies van die naweek. 

Tot ʼn volgende keer – Tarra

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *