Blog

Namibië toe met ʼn helse draai

Saterdagoggend 4am raas my wekker hier langs my. Iets waaraan ons nou al vir +/- 12 maande beplan het, het uiteindelik aangebreek.

Die laaste paar goed kry hul plek in die voertuig. ʼn Vinnige gebed en dan word ʼn swaar 80 Series se neus die hek uit geluier.

Net buite die dorp kry ons die Groenewald’s en Hugo’s. Blad word vinnig geskud en dan is ons konvooi aan die beweeg.

Ons eerste stop vir hierdie drie weke toer sou Verneukpan wees. Met die dat die ander twee gesinne nog nie daar was nie sou dit ‘n sonde wees om net verby te ry.

Al sou hierdie my en Marli se 4de (seuns se 2de) besoek wees aan die pan is die opwinding presies soos die 1ste keer, baie jare gelede.

Ons kamp vir die aand

Die laaste keer toe ek en Marli op die pan was, het die weer teen ons gedraai en toe ons die volgende oggend ons kop die tent uit steek toe lyk dit of ons in die middel van ʼn groot dam kamp. Die keer was die weer gelukkig aan ons kant.

Verneukpan
Km en km van niks nie – awesome

Soos altyd vat dit die kinders nie lank om ʼn rigting in te skiet nie. Vuur word aangesteek en ons 3 weke toer het amptelik begin.

Volgende oggend (dag 2) en ʼn mens kan jouself nie keer om die regtervoet bietjie neer te sit en die oopte te beleef nie. Hierdie is nie vernuut die tuiste waar landspoedrekords op gestel word nie, dus kan ons mos ook so bietjie die perde se longe oop maak.

Terug op die R27 en die konvooi beweeg Noord. By Keimoes draai ons links en ‘n paar kilometer verder draai ons regs by die bordjie, Riemvasmaak.

Riemvasmaak is ʼn nedersetting in die Noord-Kaap en was tot en met 1994 ʼn millitere toetsbasis gewees. In 1997 was die Riemvasmakers se grondeis suksesvol en ‘n groot aantal het na hul geboortegrond teruggekeer.

Riemvasmaak
Norbert Coetzee se koffie winkel

By die ingang van die dorpie word daar by Norbert Coetzee, van Voetspore faam, se koffiewinkel gestop voor ons die reservaat inbeweeg en afkronkel tot by die droë rivierloop waar ons die aand sou kamp.

Jacques het vooraf met Norbert se vrou gereël dat hul die aand vir ons iets tradisioneel sou voorberei vir aandete, en wat ʼn fees was dit nie – afval, stampmielies, boontjiebrede, roosterkoeke en souskluitjies.

Riemvasmaak
Kampvuur stories

Vanaf Riemvasmaak kronkel ons deur die Vallei Van Verlatenheid na Kakamas, waar ons die aand (dag 3) by oud Wellingtonner, Vlok Hanekom, gaan kuier en kamp op hul familie plaas, Die Mas Van Kakamas.

Die Mas van Kakamas
Kamp langs die Oranje Rivier

Noodsaaklike proviand word natuurlik eers by die kelder gekry, voor kamp opgeslaan word langs die Oranjerivier. Die knape is nogal bekend vir hul brandewyn en gin so dit sal mos nou ʼn klap in hul gesigte wees as ons nie hierdie hardwerkende manne ondersteun nie, al is ons nie regtig brandewyn of gin gebruikers nie! 🙂

Die man homself, Vlok, kom maak later ʼn draai en bring sommer ʼn halwe bakkie hout saam om seker te maak dat, sou die geselligheid dalk momentum kry, daar darem genoeg hout sal wees.

Die Mas van Kakamas
So ietsie vir die keel word geniet

Die volgende oggend word ontbyt by Lake Grappa geniet om nog ʼn ou Wellingtonner, Le-Rie Visser, te groet voor ons die voertuie se neuse weer Noordwaarts druk.

By Upington word die voertuie volgemaak en laaste proviand gekoop. +/- 200km later op die R360 stop ons by Molopo Lodge waar die tente verruil word vir rondawels en skoon, wit linne (dag 4).

Dit is wonderlik om die effek te beleef wat ʼn bed met skoon linne op ʼn vrou se gemoedstoestand het, veral na ʼn paar aande in ʼn daktent – daar is skoon ʼn huppel in hul stappies!

Molopo Lodge
Ondersteun so bietjie die watergat

Die Lodge is baie gewild onder toeriste wat oppad is na die Transfrontier Kalahari Park (TKP), maar ook ʼn gewilde “watergat” vir die mense in die omgewing.

Natuurlik was daar seker gemaak dat hierdie bekende “watergat” wel sy bekendheid volstaan.

Die volgende oggend word die Meerkat Rehabilitasiesentrum by Kalahari Trials eers besoek, wat natuurlik ʼn groot hoogtepunt vir die kinders was, voor ons die R31 na Rietfontein neem waar ons die grens sou oorsteek.

Meerkat Rehabilitasiesentrum

By Aroab draai ons regs op die C11 en stop so paar kilometer buite die dorpie vir middagete langs die pad.

Soos altyd raadpleeg Jacques sy T4A kaart tydens sulke stoppe en noem hy het ʼn nuwe, korter, meer interessante roete gekry en dus gaan ons wegbreek van die C11 (wat ʼn groot grondpad is) en dan die D503 vat wat later ʼn sand tweespoorpad word en, as alles goedgaan, sal ons weer by die C15 sal aansluit.

So besluit so gemaak. Net toe ons dink die sandgedeelte gaan nie kom nie, kom Jacques se stem oor die radio dat die pad verander het en dat ons in die linkerkantse sand baan moet klim.

Skielik is daar opwinding op die radio’s want hierdie is die klas paaie wat ons voor gekom het. Die rooi duinstrate is iets om te beleef en elke keer as ons een oorgaan dan oorrompel die natuurskoon jou.

Die 4.5 se dreuning as ons ʼn duinstraat op- en afjaag is sielskos en die musiek is iets van die verlede.

By die C15 draai ons regs en ‘n paar kilometer later stop ons voor die hek van Kalahari Game Lodge.

Kalahari Game Lodge

Hier sou ons kamp vir 2 dae in die droë Auob rivierloop (dag 5 & 6). Die park het 6 eksklusiewe kampplekke wat +/- 100m van mekaar is. Elk het sy eie ablusiegeriewe, sonkrag en baie belangrik, warm water vir stort.

Diè wat al in die Kalahari was sal vir jou sê as jy eers daai rooi sand onder jou voete gehad het sal jy altyd hunker om weer terug te gaan.

Kalahari Game Lodge
Diep konsentrasie tydens kaart speletjies

Die wêreld se gejaag was iets van die verlede en hier kon jy jou aandag op die belangrike goed van die lewe toespits – kwaliteit tyd saam met familie en vriende.

Kinders is kinders en as hulle nie op ʼn verkenningstog is of duine ry nie, dan maak hulle renbane en plase in die Kalahari sand.

Kalahari Game Lodge
So word daar karretjies gespeel

Laaste dag gaan verken ons die reservaat voor ons weer in die pad val. Die veld is droog, maar mooi en so ook die wild. Plek-plek is die sand maar dik en daar moet gefokus word.

Soos altyd het Jacques en Lourens die oë van ʼn valk en met daai manne se veldvernuf voor aan die konvooi is wild uitgewys sonder dat ons hoef te sukkel.

Terug op die C15, draai ons so paar kilometer later links en vat die C17 tot by Koës waar al die voertuie weer volgemaak word. Preseis 108 kilometer later op die C17 ry ons Keetmanshoop binne waar groot proviand aankope gedoen word.

Nog so paar kilometer verder op die B4 draai ons links op die C12 en volg die sowat 80 kilometer se grondpad tot ons die D601 afdraai kry.

Canyon Roadhouse (dag 7) is ʼn oase in die middel van nêrens en ʼn ongelooflike verrassing vir almal gewees.

Die lodge met sy groot rooi dak is baie populêr onder toeriste wat die canyon (14km verder) wil besoek. Die groot vragmotor wat as ontvangs tafel dien kan mens nie mis nie. Orals waar jy kyk is ou Chevys en Fords uit ‘n vroeë era. Alles is pynlik netjies en word aangevul met vriendelike personeel.

Canyon Roadhouse
Ons kamp vir die aand

Kamp word opgeslaan en vuur aangesteek. Die roetine begin nou al tweede natuur raak en almal weet waar om te vat en dinge beweeg klopdisselboom.

ʼn Gemsbok, opsoek na gras, maak sy verskyning rondom ons tente tot groot vermaak van die kinders.

Die volgende oggend word ontbyt in die lodge geniet voor ons weer die konvooi aan die beweeg kry.

Vandag se eindbestemming gaan Ai-Ais wees waar ons twee aande sou kamp, maar voor ons daar uitkom het ons die bekende Visrivier Canyon gaan besoek wat ʼn skouspelagtige ondervinding was.

Visrivier Canyon
Visrivier Canyon

Hierdie is ook die beginpunt van die Visrivier Staproete wat 5 dae lank is en eindig by Ai-Ais – definitief iets wat ek nog wil doen.

Visrivier Canyon

Ai-Ais (dag 8 & 9) sou ʼn eerste vir my gewees het en een van die bestemmings waarna ek baie uit gesit het, maar na twee dae daar sal dit dalk ook my laaste wees. Dalk het ons net die verkeerde tydperk gekies, maar dit het vir my gevoel soos Hartenbos in die Desember vakansie. Die plek was oorval met mense en om alles te kroon is hout NêRENS beskikbaar nie. Dus as jy nie hout saamgebring het nie, dan moes jy soos ons maar hout gaan soek het in die rivierloop.

Ai-Ais

Dit was lekker om ou vriende van Durbanville en Wellington daar te kon sien en die kinders het die swem natuurlik baie geniet, maar die plek en die fasiliteite het my nie regtig verstom nie.

Al pluspunt van Ai-Ais was dat die Laas-familie by ons aangesluit het. Van hier sou ons 4 voertuie wees oppad Lüderitz toe waar ons groot duine avontuur sou begin.

Kliek hier vir meer foto’s van hierdie eerste gedeelte van ons drie weke lange toer.

Volgende pak ons die Namib Woestyn se monster duine aan. Lees meer daaroor hier.

10 Comments

  1. Andre

    Jaloers….. Ander se vakansies lyk altyd die lekkerste… Lekker om te lees!!

    1. Gustav Marais

      Goed geskryf. Laat mens uitsien na die volgende artikel.

  2. Martin

    Lekker man!
    maak my jaloers!

  3. Herman

    Hoe hunker ek nou na rooisand en Suidwes.

  4. Aldri

    Puik skrywe my maat. Lekker om te weet jy dokumenteer die goeie en goue tye. Sit sommer nog mooi myle op die klok

  5. Jeanette Nieuwoudt

    Henry, jy skryf so dat mens self die roete wil ry. Dit klink ongelooflik, dankie vir die deel. Ek sien uit na die volgende artikel.

  6. […] Lees gerus meer van die eerste week van ons toer hier. […]

  7. Henry Jonker Online

    […] Week 1 – Namibië toe met ʼn helse draai […]

  8. Carlo Nieuwoudt

    Dankie vir die voleedige opname van die roetes dit was intresant om te lees en deur dit te gaan ek probeer alle toere volg van julle geniet dit baie dankie dat julle dit moontlik maak groete uit die karoo

    1. Henry Jonker

      Hi Carlo. Dankie vir die inloer. Bly jul geniet die verhale. Waar in die Karoo is julle?

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *