Blog

Namib Woestyn en sy monster duine

Week een van ons drie weke toer is iets van die verlede, maar die groot avontuur waarvoor ons regtig hier in Namibië is wag vir ons in Lüderitz.

Lees gerus meer van die eerste week van ons toer hier.

Van Ai-Ais kronkel ons deur die Richtersveld langs die Oranje rivier tot ons die C13 kry.

Duine (2)

By Rosh Pinah word die laaste proviand vir ons ses dae duine avontuur gekoop – hout, ys, bier, koeldrank, bier, water, snacks, bier (het ek al bier genoem?) …

Voertuie en jerrykanne word tot in die keel volgemaak. Alles word vir ʼn laaste keer na gegaan en dan is ons klein konvooi weer aan die beweeg.

Paul lei die konvooi, gevolg deur Lourens, Jacques en dan ons. Die C13 na Aus het heeltyd  ʼn geleidelike klim en ek sukkel om by die manne te hou op 110km/h. Die Cruiser voel swaar, maar nie buite gewoon swaar nie.

Ek kyk vir Marli en ek weet sy dink presies aan dieselfde ding as ek – hoe gaan ons hierdie swaar Cruiser deur die duine kry as ons nou sukkel om by die ander te bly op ʼn verdomde teerpad.

Paar weke voor ons toer afgeskop het, het ons die voorreg gehad om bietjie tyd saam met Jurgens Schoeman (Live The Journey – Besturende Direkteur) te geniet. Soos almal wat so avontuur aanpak het ons tonne vrae gehad en met die dat hy ook ‘n Wellingtonner is, het ons sommer ʼn beesrib op die kole gegooi en lekker gesels. Arme man is oorval met vrae, maar die twee groot punte op almal se harte was: die vermoë van elk se voertuig & natuurlik die hoeveelheid petrol/diesel vir hierdie tog.

Soos ons Jurgens nou al begin leer ken het, en so ook sy span by Live The Journey, is hy ʼn natuurlike avonturier & reisiger en iemand wat uit sy pad sal gaan om die ondervinding vir elk van sy kliente onvergeetlik te maak. Elke vraag, bekommernis is sorgvuldig beantwoord – advies is gegee, maar meer belangrik wat ons almal huis toe gevat het na daai aand, is ja maak seker alles is reg, maar meer belangrik geniet die avontuur want dit gaan ʼn ander wêreld vir jou oopmaak.

By Aus draai ons links op die B4. Verkeer is daar min en ek kry die gevoel dat as jy hier voertuig probleme gaan kry gaan jy ʼn rukkie wag voor iemand by jou uit kom.

By Kolmanskop (spookdorp so 15km voor Lüderitz) kry ons ʼn dwarsklap toe ons hoor dat die besoekers fooi van R100 pp verander na R300 pp as jy na 12pm dit wil besoek. Effe befoeterd besluit ons om liewers aan te stoot en by ons gastehuis, Kratzplatz, (dag 10 van ons toer) uit te kom en die laaste goed reg te kry voor ons later die aand die res van ons medereisigers & gidse gaan ontmoet.

Voertuie word vir die laaste keer vol gemaak en al waaraan jy dink is: magtig jy hoop dit is genoeg petrol/diesel om die 650km deur die woestyn te maak. Maar meer hieroor en ons goeie vriend Jacques later in die artikel.

Na ‘n besoek aan Lüderitz se waterfront en ‘n vinnige bier is ons onderweg na Ritzi’s Restaurant waar ons die res van ons medereisigers en gidse (x3) sou ontmoet.

Duine (18)

Ons drie gidse vir hierdie reis sou Len Kooitjie (hoofgids), sy broer Luciano Kooitjie &

Lukas Ngenohame wees. Met die intrap by Ritzi’s word ons hartlik ontvang deur die manne en ontmoet die res van die groep. Wat opvallend was is dat daar gesinne was wat dit van te vore al gery het en vir ʼn 2de keer terug is. Dit alleen was ʼn teken dat iets ongelooflik vir ons wag.

Na ʼn lekker kuier saam met die groep beweeg ons terug na Kratzplatz waar Paul skielik ʼn lus vir oesters gekry het en dit beteken dat ons in die laat ure deur Lüderitz wandel opsoek na ʼn verdomde restaurant wat 1) nog oop is, 2) oesters verkoop. Soos geluk dit wil hê, het ons wraggies een gekry.

Dinsdagoggend, 25 Junie, (dag 11 van ons toer / dag 1 van duine trip) en die groot dag breek aan vir ons duine avontuur. Daar is opwinding onder die groep van 12 voertuie (almal wit Toyotas) wat vroegoggend by ʼn vulstasie by mekaar gekom het. VHF radio’s word gou in elke voertuig installeer en kort voor lank roep Len die groep bymekaar. Na ʼn vinnige verduideliking wat vir ons wag lei Len se 2.8 Hilux die konvooi uit Lüderitz.

Here we go!! (in in ‘n diep scarry stemtoon)

+/- 30km terug op die B4 draai ons links en dan volg ons ʼn grond pad vir so paar kilometer tot ons aan die voet van ʼn duin straat kom.

Bande word afgeblaas tot 0.8 bar en dan word die groep weer bymekaar geroep. Len verduidelik wat vir ons wag en meer belangrik wat hy van ons as groep verwag. Alhoewel hierdie ʼn ongelooflike avontuur vir jou en jou familie kan wees, moet jy besef dat daar wel ʼn gevaar komponent gepaard gaan daarmee. As jy nie fokus nie, of nie na die gidse luister nie kan jy ʼn duin oorvlieg en jou voertuig beskadig, maar meer kommerwekkend jou familie kan seerkry.

Duine (27)

Len vang my met ʼn slap riem en roep my na vore om geluk te wens met my verjaarsdag. Na ʼn vinnige “Happy birthday” singalong van die groep is die konvooi aan die beweeg deur die duin strate.

Die eerste dag kronkel ons al langs ʼn duin straat. Alhoewel sand, is die pad plek-plek maar sleg.

So net na 5pm kry Len ʼn oop plek en kamp word op geslaan. Die kombuis, shower tent & toilet tent kry hul plek en kort voor lank kuier almal rondom die vuur. Dag 1 is iets van die verlede, maar nie die geselsies nie. Die dag se gebeure word in diepte om die kampvuur herhaaldelik bespreek.

Duine (41)

Woensdagoggend (dag 12 van ons toer / dag 2 van duine trip) en na ʼn lekker ontbyt word kamp op geslaan en dan is Len se Hilux weer aan die beweeg. Luciano & Lukas is agter in die konvooi met hul 2.8 Hilux en soos Len se bakkie is hul swaar gelaai met al die kamp toerusting & kos vir die 6 dae lange tog.

Die dames is aan die stuur vandag tot groot vermaak vir die kinders. Vandag beweeg ons dieper die woestyn in en kort voor lank raak die roete meer uitdagend soos ons oor die verskeie duin strate beweeg.

Duine (50)

Die roete vat ons verby ʼn ou verlate Ford lorrie genaam Suzy. Na die Tweede Wêreldoorlog is baie van hierdie Ford lorries gebruik om voorraad aan te ry na die verskeie diamant spergebiede asook Saddle Hill. Ongelukkig het hierdie een meganiese probleme ondervind en haar bemanning het haar net daar laat staan opsoek na hulp.

ʼn Bulldozer wat gestuur was om Suzy te probeer help is paar km verder in die duine gekry. Wat ons almal verstom het, is hoe hierdie groot stuk yster dit reg gekry het om sover deur die woestyn te kom.

Duine (69)

Meganiese probleem het nie net sy merk op die bulldozer gelos nie, maar Len se bakkie het ook daaronder gelei. Tydens die stop by die bulldozer het hy agtergekom een van sy voorste skokbreker shafts het gebreek. Alhoewel die bakkie nog voort kan gaan, het Len wel besluit dat sy broer, Luciano, die konvooi sal lei terwyl hy na agter sal beweeg. Intussen word hul kantoor op Walvisbaai gekontak, via satellietfoon, en kort voor lank is ʼn nuwe part onderweg van Windhoek na Walvisbaai. Van daar sal een van hul ander gidse die part na Len bring waar-ook-al ons in die woestyn is.

Hoe verder & dieper ons die woestyn in beweeg raak die duine al hoe groter en baie meer uitdagend. Elke keer as daar teen ʼn slipface afbeweeg word en die sand brul stop jou hart vir ʼn paar sekondes en vergeet jy soms om asem te haal.

Duine (102)

Sonder dat ons daarvan bewus was, het ons al nader aan die kus beweeg. Sylvia Hill het sy verskyning op die GPS gemaak, maar met die dat tyd nog aan ons kant was, het ons verder al langs die kus beweeg tot Luciano se stem oor die radio kom dat ons gaan stop vir kamp.

Die ligging van ons tweede aand in die woestyn was iets skouspelagtig en iets wat jy op ʼn poskaart sou sien. Ons kamp was hoog op ʼn duin, 117m bo seespieël. Lourens het ʼn jukkerigheid op hom gehad dat hy die see tussen sy tone wou voel en die mal knaap is wraggies daar af. Hy het wel amper gesterf met die terugkom slag haha.

Duine (87)

Len en sy span was weer volstoom aan die gang besig met ʼn watertand aandete. Teen die tyd was almal al heel gemaklik met mekaar en die geselsies om die vuur het al hoe vroliker geraak. Paul kom met die voorstel dat daar na elke dag ʼn “fines meeting” gehou moet word en dus neem hy en Scois (Vissie) beheer van die inisiatief. Scois & sy familie was deel van 4 voertuie ook uit die Boland – almal familie.

Net soos die son sy laaste strale terug trek maak strandjakkalse hul verskyning wat paar mense mooi laat regop sit het. ʼn Sekere persoon, Marli, kon nie die toilet tent verlaat nie, want toe sy die tent deur oop zip toe loer vier stelle oë vir haar. Ek persoonlik was nou nie daar nie, maar soos ek my vroutjie ken was dit seker maar ʼn angswekkende oomblik vir die arme jakkalse gewees.

Duine (89)

Donderdag (dag 13 van ons toer / dag 3 van duine trip) raak die duine sommer van vroegoggend af uitdagend en groter. Elke dag net wanneer ek dink dat ons ou 80 Series Land Cruiser ons verbaas het, dan wys die knaap ons net weet hoekom hierdie (Afrika) sy habitat is.

Voor ons die tog begin het, het Len my gerus gestel en genoem dat as jy hom in sy 3de rat Laestrek kan kry met genoeg revolusies dan sal hy jou nie los teen ʼn monster duin nie en so gesê, so gemaak. Elke keer as ons op die kruin van ʼn monster duin lê en sien hoe vêr en klein die voertuie voor ons ʼn duin uitveg dan kyk ek en Marli vir mekaar en albei wonder – is dit die een wat die ou bees se longe gaan plat trek. Maar elke keer as ons die duin onder slaan en die neus begin na die wolke wys is daar altyd krag. ʼn Ondervinding wat mens nie regtig kan verduidelik tot jy dit self ervaar het nie.

Laatmiddag en een van die duin strate lei ons tot teen die see waar die konvooi al langs die strand af beweeg.

Vandag is daar ʼn haastigheid & rusteloosheid onder van die manne want vanaand sal ons by die bekende Meob Baai kamp. Vir die wat weet en wat lief is vir die see sal weet hierdie plek is enige visserman se droom. Die beste manier om Meob Baai te verduidelik is Adam Tas se liedjie oor hierdie stukke paradys.

Duine (147)

ʼn Ander groot verrassing het vir ons almal gewag by Meob Baai. Ons was onder die indruk dat dit net nog ʼn kamp langs die see sou wee. Wel ons sou kamp, maar nie in ons tente nie, want ʼn hele tent dorpie het vir ons gewag. Die warm storte en natuurlik die skoon en ingerigte tente (beddens, elektrisiteit…) was sowaar ʼn plus punt en verrassing vir almal.

Duine (142)

Die volgende oggend (dag 14 van ons toer / dag 4 van duine trip) is ons konvooi weer aan die beweeg na ʼn groot ontbyt. Die eerste +/- 50km ry ons al langs die see en dit alleen was ʼn avontuur van sy eie.

Duine (198)

Die res van die dag word die 3 ou myn nedersettings van Holsatia, Charlottenfelder en Grillenberger verken. By elk verduidelik Luciano die geskiedenis aandagtig en antwoord al die vrae daar rondom sorgvuldig.

Duine (193)

Die aand kamp ons langs ʼn reuse duin. Met die dat hul so gereeld daar kamp, is ʼn windskuiling vir die vuurmaak area en ʼn long-drop toilet opgerig. Soos gedurende ons hele tog is die swart kraaie nie ver van ons kamp af nie. Weereens het die jakkalse laataand hul verskyning gemaak en wat ʼn eienaardige gevoel is dit nie as hulle so om die tente huil nie.

Ons tweede laaste dag in die duine het aangebreek (dag 15 van ons toer / dag 5 van duine trip). ʼn Misbank het dik oor ons kamp gelê die oggend. Toe dit later duidelik raak dat dit nie gou gaan verdwyn nie, gee Luciano die teken en die konvooi is weer aan die beweeg. Ligte word aangesit en almal maak seker dat daar ʼn duidelike sigbare volgafstand tussen die voertuie is.

Dit is tye soos hierdie waar ervaring tot vore kom. Regs en links van ons is monster duine, maar ons sny soos ʼn mes deur die duine in digte mis agter Luciano aan. As gevolg van die digte mis word een van die bekende speelgate vermy. Teen die tyd is almal relatief al gesout met sy voertuig en ons beweeg sonder enige voorvalle deur die duine.

Duine (221)

Ongeluk het wel later sy nek uitgesteek toe die een universal joint van oom Chris Broodryk (van Vermont) se Prado besluit het om nie meer deel te wees van die voertuig nie. Len & paar manne was onmiddellik aan die werk op die voertuig, maar ongelukkig was daar niks wat daar gedoen kon word sonder ʼn nuwe universal joint nie.

Len neem ʼn GPS lesing van waar die voertuig staan terwyl al die belangrikste toerusting tussen die res van die voertuie versprei word.

Gelukkig was Chris se seun (Johan) en sy familie ook deel van die toer en het hulle sommer by Johan-hulle in geval.

Vanaf Holsatia lei die roete ons na Conception Baai al langs die strand Noordwaarts in die rigting van Sandwich Baai. Die wrakke van die Eduard Bohlen en Shawnee word ook later die dag besoek. By Langewand word daar gewag tot die gety laag genoeg is dat ons kan afsak tot by die strand. As jy hierdie gedeelte verkeerdelik aanpak, kan die see jou vasdruk teen die massiewe duine, en dan kan jy jou bakkie maar groet. Na Langewand lei die roete weer na die duine en omseil die Salt Panne uitbreidings van Sandwich hawe.

Duine (253)

Kamp word laatmiddag so 500m van die see op geslaan. Almal is bewus dat hierdie ons laaste aand in die woestyn sal wees. By Lüderitz is daar besluit dat Jacques een van die aande “Rey Jansen van Rensburg” slap chips sou maak en dus is genoeg aartappels en olie saam gery. Vanaand sou die perfekte aand vir so klein opwinding wees. Soos altyd was dit ʼn wenner onder die kinders gewees as die vlamme die donker aand in skiet.

Duine (241)

En so breek die laaste dag (dag 16 van ons toer / dag 6 van duine trip) van ons duine avontuur aan. Alhoewel almal lus is om aan die gang te kom en die duine aan te pak, wil niemand hê dat hierdie rollercoaster van ʼn avontuur tot einde kom nie.

Ons groep is in twee gedeel. Len het die groep wat vroeër in Walvisbaai wil kom strandlangs tot by Walvisbaai gevat terwyl Luciano die res van ons weer dieper die duine in gevat het om vir ʼn laaste keer die reuse seuns aan te durf.

Laat oggend kom Jacques se stem oor die radio en wil die groot knaap weet +/- hoeveel km dit nog is tot by Walvisbaai want sy petrolliggie brand nou al vir ʼn geruime tyd en hy is nie 100% of hy die laaste gedeelte gaan maak nie.

Teen die tyd het my petrolnaald ook al naby die rooi “empty” merk gestaan en gelukkig kon ek darem nog ʼn paar liter uit my reserwe tank oor pomp.

Luciano besluit dit is tyd dat hierdie konvooi by Walvisbaai uit kom en ons beweeg see se kant toe. Terug op die strand en die spasie is maar klein tussen die see & die duine. Skielik is die radio stil en elk is gefokus op wat hy moet doen om nie in die see in te voeter nie.

Uiteindelik kom ons uit op ʼn groot strand suid van Walvisbaai. Teen die tyd is die laaste paar liter wat ek oor gepomp het iets van die verlede en lê my naald net bo die rooi “empty” merk.

By die soutverwerkingsaanleg word die bande vir die eerste keer na 6 dae weer opgepomp en die Cruiser het skielik weer anders geklink toe ons op die harde pad klim.

Skielike kom Jacques se stem oor die radio: “Henry jy moet stop!”

Die 4.0 het besluit 240 liter petrol was nie genoeg nie. Paul en Lourens ry vooruit om te kyk of hulle ʼn jerrykan petrol kan gaan koop by die naaste vulstasie, maar soos geluk dit nou wou hê het die eerste 3 vulstasies wat hul besoek nie petrol nie. Intussen maak ons die bakkie agter Luciano vas en dan is ons weer aan die beweeg.

Soos gedink was dit nie lank voor die manne die radio’s aan die brand praat oor hierdie klein glipsie nie. Arme Jacques sal seker nooit die einde hiervan hoor nie. Daar is klaar sprake om ʼn jerrykan bo sy braai vir hom te monteer net dat hy darem kan onthou van hierdie dag.

Sondagmiddag, 30 Junie, so net na 12pm ry ons konvooi Walvisbaai binne en stop by die Bush Cafe & Family Restaurant. Paar minute later en Paul asook Lourens stop ook met ʼn 20l se liquid gold aka Petrol vir Jacques. Die man glimlag sommer breed toe daai Toyota 4.0 weer lewe kry.

En so kom ʼn onvergeetlike avontuur tot ʼn einde. ‘n Paar dae vantevore was ons so senuweeagtig en het nie geweet wat vir ons wag nie en as jy nou enige persoon sal vra sal hulle onmiddellik weer terug ry Lüderitz toe via die duine.

Die Namib se duine was nog altyd ʼn “bucket list” item vir my, maar soos ou Chris Van Der Merwe sê almal wil dit doen as ʼn “once-in-a-life-time-experience”, maar as jy dit eers een keer gedoen het, gaan jy DEFINITIEF weer wil terug kom en dit is wraggies so. Ons dink al klaar wanneer ons Faces of the Namib wil doen.

As jy, soos ek, graag hierdie avontuur wil aanpak, maar jy het tonne vrae oor hoe en wat, skiet my ʼn epos en kom ons gesels.

Duine (202)

ʼn Groot DANKIE aan Jeanette Meiring van Live The Journey wat so geduldig met ons was en al email ons haar hoeveel keer op ʼn dag, kom daar altyd ʼn vriendelike reply terug. Dink die arme vrou was so verlig & dankbaar toe ons uiteindelik begin het met die toer.

Dan laaste, en wraggies nie vergete nie, ons drie gidse – Len, Luciano & Lukas. Manne jul kennis van die duine en gebied, geduldigheid, vriendelikheid, hulpvaardigheid…vfrek die lys gaan aan sal nie vergete gaan nie. Ons sal weer om ʼn vuur in die duine staan en ʼn paar vuil Coke’s geniet.

Duine (260)

Ons duine toer mag dalk klaar wees, maar ons is nog ʼn week op toer. Meer daaroor in die volgende artikel wat oor ʼn paar dae sal aanlyn wees.

Kliek hier vir meer foto’s van ons duine avontuur.

Paar addisionele notas:

  • Oom Chris se voertuig is 3 dae later uit die woestyn uit gery.
  • Voertuie in ons groep & petrol/diesel verbruik in die duine:
    • Laas’s – Toyota 2.8 Hilux – 4.5 km/l
    • Groenewald’s – Toyota 4.0 Hilux – 2.2 km/l
    • Hugo’s – Toyota 3.0 Hilux – 3.5 km/l
    • Ons – Toyota 80 Series Land Cruiser – 2.0 km/l
  • Maak seker jou voertuig is in goeie kondisie, want hy gaan hard werk.
  • Ons het met 260L petrol gegaan en het Walvisbaai darem gemaak. Kon seker rustiger op partyplekke gery het, maar aai dit was darem te lekker om rustig te wees.

4 Comments

  1. […] Volgende pak ons die Namib Woestyn se monster duine aan. Lees meer daaroor hier. […]

  2. Peter Goetze

    Henry, thx for an enjoyable trip report and pictures. Brought back so many memories. I did the tour, but with another operator in 2016. I enjoyed it so much I did it again in 2018 with LTJ, but from Solitaire to Walvis Bay. Len, Luciano and Lukas were also our guides. You cannot find any better. Presently I am planning another trip later this year, again from Solitaire to WB. Cannot wait for it to begin.

    Cheers, Peter

  3. Henry Jonker Online

    […] Week 2 – Namib Woestyn en sy monster duine […]

  4. […] lank gelede het ek en ou Jacques lekker gelag oor hy wat sonder petrol gaan staan het in die laaste dag van ons duine trip en soos die stand van sake nou lyk is daar ʼn groot moontlikheid dat die prentjie andersom gaan […]

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *