Blog

Kamp by Donkieskraal & The Dunes

Moeilik om te dink ons is al in die 2de maand van 2019 en dit is +/- 3 maande wat ons familie laas gekamp het #SiesMan.

Die jaar gaan een spesifieke avontuur alles wat ons ook al aanpak oorheers. ʼn Bucket list item wat ek met alle mag wil af tick – duine ry van Luderitz tot Walvisbaai in Namibia. Ons is 4 gesinne wat vir 3 weke gaan toer, so die opwinding vir die trippie lê al vlak.

Ter voorbereiding word daar besluit om die voertuie se tone in die sand te druk by The Dunes naby Lambertsbaai. Dit is tyd om die Karoo se stof te verruil vir die Sandveld se sand.

Groot Jacques reël die nodige en kort voor lank trek ons een vir een Vrydaglaatmiddag by Donkieskraal in.

Donkieskraal is gelei op die plaas Sandberg. Geskiedenis vertel die storie dat donkies & perde tydens die Boer Oorlog (1899 – 1902) hier weg gesteek was tussen die rotse sodat die Britte hul nie kon konfiskeer nie.  

Ons span vir die naweek was soos volg:

  • Groenewald’s (Jacques, Carlize & Rialé)
  • Laas’e (Paul, Marina, Munnik & Streicher)
  • Hugo’s (Lourens, Mariette, Josua & Loumari)
  • Laubscher’s (Frans & Lunay)
  • Jonker’s (ek, Marli, Jean & Lian)

Vrydae aande is maar altyd so ʼn oop-skop-deur kuiertjie. Die week se chaos & uitdagings is iets van die verlede en die opwinding om weer in die veld te wees moet net geblus word met ʼn koue of 4. Roosterkoeke & Cowboy kos (mince & bone) was op die menu vir die aand en mens kan nooit daarmee verkeerd gaan nie.

Kuier by Donkieskraal & The Dunes naby Lamberts Bay
Donkieskraal

Saterdagoggend en die tyd vir praat is verby. Dit is nou duine toe en waar reputasies getoets gaan word. By The Dunes aangekom word al die voertuie se bande eers afgeblaas na 0.8 bar voor ons onder begeleiding die duine in geneem word.

Kuier by Donkieskraal & The Dunes naby Lamberts Bay
Laaste en enigste keer toe die twee knape stil was haha

Jean & Lian se opwinding is iets om te beleef. Ek kry skaars tyd om op die radio te praat met die res van die konvooi, want die knape herhaal elke draai/bult waardeer ons gaan met opwinding & passie. Dit is wragtig soos ʼn reply opsie in my voertuig.

Al waaraan ek kan dink is: “moet net nie jou naam gat maak vandag nie Henry!”.

Die konvooi kom tot stilstand en ʼn oorsig & reëls van die oggend word verduidelik. Die wêreld is sommer al vroeg warm, maar dit pla nie die kinders wat orals rond hardloop  nie.

Kuier by Donkieskraal & The Dunes naby Lamberts Bay

Van hier af was die “blue print” van die oggend eenvoudig:

  1. ons volg ons gids deur die duine tot by ʼn spesifieke plek
  2. duine word aangepak met alles wat jy het oor en oor tot jy bo kom. Vir ander (ek) kom jy bo dan moet jy mooi vra dat iemand jou van die duin af trek
  3. lesse word geleer en dit is NB, want dit is hoekom ons hier is
  4. sodra almal bo, of oor die duin is herhaal ons weer #1 tot #3

Aai, en as jy regtig sukkel met punt #2 en jou vrou die stokke by jou vat en die duin die eerste probeerslag uit ry dan weet jy, jy sal NOOIT OOIT in jou leeftyd die einde daarvan hoor nie. Maak nie saak of jy klein Koala beertjies uit ʼn brandende bos red nie, jou reputasie is die van: “as jy weer sukkel liefie vra my en ek sal die kinders wys hoe om die duin uit te ry”.  Mic dropped!

Terug by Donkieskraal en dit is ʼn “sprint” vir die swembad, om van die Sandveld hitte te ontsnap.

Laat middag en die vure word weer aangesteek. Elke duin word in diepte bespreek terwyl ʼn skaaprib sy plek langs die vuur kry. Kinders baljaar in die swembad en later is die hele spannetjie ook sommer in die swembad.

Kuier by Donkieskraal & The Dunes naby Lamberts Bay
Manne is daai blou Gin?

Saterdae word daar altyd lank en aanhoudend gebraai. Eers word daar begin met ʼn varkrib en toe opgevolg met ʼn skaaprib, hoender sosaties , rushers & steak.

Sandveld het sy eie bekoring, maar mens as hy warm raak dan raak hy menslik warm. The Dunes is definitief ʼn moet as jy jou sand/duine ry vernuf wil opskerp. Die duine is nou nie die van Namibia nie, maar dit is nogsteeds ʼn avontuur op sy eie.

Ek dink elke man (ek definitief) het ʼn paar goed van sy voertuig geleer en almal dink al klaar aan Namibia se duine oor 4 maande.

Dankie vir ʼn puik naweek almal.

Kliek hier vir ʼn paar foto’s van die naweek se avontuur.

4 Comments

  1. Hugo

    Great lees soos altyd Henry.

    1. Lourens

      Henry. Jyt n gawe om n naweek se opwinding so mooi op skrif te stel. Dankie. So ‘herleef’ ons die naweek weer.

  2. Marina

    Love jou stories Henry!

  3. Rikus

    Ek kan sien dit was GROOT pret en lyk baie LekkeR

Leave a Comment to Rikus Cancel comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *