Blog

Blou Nartjie & ‘n Banggat roete

Die laaste 3 jaar het ons die langnaweek in die winter gebruik om paaie en plekkies te gaan verken in die Karoo en areas rondom dit saam met die Groenewald gesin. Die jaar sou dinge nie anders wees nie en Vrydagoggend 7vm verlaat ons ʼn bitter koue Wellington op pad na Op-Die-Berg via Ceres.

Die wêreld is koud en plek-plek is dit wit geryp. Net buite Op Die Berg draai ons regs en volg die teerpad totdat dit grond raak. ‘n Paar kilometer verder stop ons langs ʼn dam en geniet ontbyt terwyl die kinders die water stroompies verken wat vloei na die dam.

Op-Die-Berg
Vet pret vir die knape

Ons stoot aan, verby Mount Ceder & Cederberg Oasis tot ons die smal spoor kry wat teen die Cederberg op kronkel tot by Eselbank.

Eselbank se mense is vriendelik en ons word van orals gegroet soos ons deur die paar huise deur ry.  Ons kronkel al af teen die berg en dan oor die rivier totdat ons die klein dorpie van Wupperthal in ry. Ek is geskok en sonder woorde toe ek sien hoeveel huise verwoes was tydens die Desember 2018 vure wat +/- 53 huis verwoes het. Die winkeltjie waar ons altyd koeldrank gekoop het is net kaal mure.

Van Wupperthal beweeg ons al teen die pas op en draai dan regs na die Biedouw Vallei. Hierdie pad sou ons dan oor die Doringrivier vat vanwaar ons dan weer by die Tankw Karoo pad, R355, reguit Calvinia toe.

Wel daai idee was van korte duur toe aankomende voertuie ons in kennis stel die rivier loop te sterk. Selfs die eienaar van die plaas wil dit nie eers waag om die rivier te kruis nie. As daar een ding wat ek en ou Jacques nie van hou nie, is om terug te “back-track”, maar terselfde tyd wil nie een van ons 2 vandag ʼn voertuig versuip nie.

Ons besluit hierdie is die perfekte geleentheid om sommer middagete langs ʼn dam te geniet. Waar daar water is, sal jy altyd laggende kinders kry.

Biedouw Valley
Heeltyd speeltyd

Met die dat ons nie die Doringrivier kan kruis nie is daar slegs een pad tot ons beskikking. Dus draai ons regs by die Wupperthal pad en volg die grondpad tot dit aansluit by die R364 waar ons regs draai.

Van hier volg ons die +/- 78 kilometer lange grondpad deur die Botterkloof Pas tot ons aansluit by die R27 teerpad. 35 kilometer later en ons ry Calvinia binne. Met die dat dit Nasionale Vrouedag is het ons maar besluit om die tente vir eers tuis te los en ietsie meer geriefliker te gaan. Aanvanklik kon die seuns dit nie verstaan nie, want hoekom ry ons al hierdie grondpaaie, maar ons kamp nie? Uhmmm, valid punt, maar hei, dink julle nie ma sal ʼn gastehuis meer waardeer as ʼn tent in die winter in die Karoo?

Jacques het vir ons plek gekry by die Blou Nartjie Gastehuis & Restaurant wat loop afstand is van die middedorp, nie dat enige van ons êrens wil loop na die lang dag nie. Al waaraan ons nou aan dink is ʼn koue bier en vuur aansteek vir die hamburger patty’s.

Blou Nartjie Gastehuis
Ietsie kouds vir die keel

Saterdagoggend word ontbyt eers geniet in die restaurantjie voor ons weer aanstoot op die R27 in Williston se rigting. So 15 kilometer buite die dorp draai ons regs op die R354 en volg die grondpad (wat in goeie toestand was) tot ons die afdraai, Rooiwal, sien. Die T4A kaarte word nader getrek om te kyk waar die pad uitkom. Soos gedink is hierdie ʼn alternatiewe pad na Middelpos, en met die dat nie een van ons hom al gery het nie is die besluit vir ons gemaak. Aanvanklik skud die zinkplaatpad alles los en ons begin wonder of dit regtig so ʼn goeie besluit was, maar later verbeter die pad en ons kronkel deur vlaktes tot ons voor Middelpos Hotel se deur stop.

Middelpos Hotel

Eers word daar gesoek na die eienaar van die hotel om die kroeg oop te sluit, want mens kan nie net verby hierdie ikoniese ou hotel ry sonder om iets kouds oor die lippe te kry nie.

Terwyl die kinders Wolf-Wolf speel in die grondpad voor die hotel, sit ons groot mense op die stoep soos ouma en oupa en teug aan ʼn lekker soetwyn van Calitzdorp se wêreld.

Middelpos Hotel

Van Middelpos is dit nog +/-20 kilometer op die R354 in Sutherland se rigting voor ons ʼn afdraai kry en dan nog so +/- 15 kilometer tot ons by Cassie Steenkamp se plaas, Koornlandskloof, kom waar ons die aand sou kuier.

Ongelukkig was Cassie se vrou, Alta, die naweek doenig op Sutherland met die toerisme kantoor dus het ons haar ongelukkig gemis, maar die kuier by Cassie en die seuns op die plaas was daai ware Karoo gasvryheid waaraan ons nou al begin gewoond geraak het.

As die skape nie kos gegee word nie, dan is dit ʼn krieket wedstryd, of ʼn WWE kompetisie, of sommer net trokke speel in die modder. Riale (enigste dogtertjie) laat haar nie intimideer deur die klomp seuns nie en speel net so lekker woes saam soos die seuns.

Kuier op die plaas in Sutherland

Om kinders so te sien speel en nuwe maats te maak is een van die groot redes hoekom ons so gretig is om nuwe plekke en paaie te gaan ontdek. As jy in skaap wêreld is dan weet jy wat jy die aand gaan eet en maggies niks lyk mooier as twee roosters vol skaap tjops nie. Om alles te kroon is daar lekker toets rugby op die tellie en maggies ʼn tjoppie proe net soveel beter as die Bokke gewen het.

Volgende oggend en Cassie beveel aan dat ons ietsie nuuts probeer. Ons is al vele kere Ouberg pas op en af, dus stel die knaap voor dat ons by Skurweberg aanklop en met hul 4×4 roete die berg af gaan.

Die besluit word sommer gou gemaak en kort voor lank ry ons deur Skurweberg 4×4 se hutte en word, soos maar orals in die Karoo, met ope arms ontvang deur ou Witjan (eienaar van die plaas).

Na ʼn kort verduideliking van die roete is ons onderweg. Die eerste gedeelte van die roete kronkel op teen die berg via ʼn tweespoorpad – niks ernstig nie. Die uitsig van bo-op die berg is prentjie mooi en ons verkyk ons aan die ooptes. Dit is by hierdie einste punt waar ons dalk bietjie konsentrasie verloor het en toe ons afdraai mis gery het.  Ons volg ʼn tweespoorpad al langs die kruin van die berg. Die kinders is in ekstase soos die Cruiser heen & weer skud en dit is ʼn groot pret agter in die voertuig.

Skurweberg 4x4
Hier moes ons links draai en NIE deur die hekke gegaan het nie

40min later en die spoor begin plek-plek verdwyn. Terselfdetyd raak die roete ook meer uitdagend en moet daar mooi kop gehou word. Soos ons teen ʼn koppie uit kruip word ons gestop deur ʼn hek…met ʼn verdomde slot. Hierdie kan mos nie reg wees nie. Die T4A kaart word weer nader gesleep en na ʼn kort verkenning van die gedeelte na die hek, besef ons êrens het ons verkeerd gery, en ons moet omdraai & terugkeer van waar ons gekom het.

Ek en ou groot Jacques hou nie van “back-track” nie, maar ons het geen keuse nie. Kinders maak dit duidelik dit is dalk tyd vir middagete en Marli & Carlize laat nie op hulle wag om gou ietsie aan mekaar te slaan agter op die bak van Jacques se Hilux bakkie nie.

Skurweberg 4x4
Middagete en dan moet ons om draai

Om alles te kroon is daar minimale spasie om die twee voertuie te draai, maar Jacques sien bietjie laer af teen die koppie ʼn area waar ons kan draai en ons twee spring gou aan die werk om die voertuie te draai.

Uiteindelik terug bo op die koppie, waar ons dink ons dalk verkeerd gedraai het, sien ons wrintiewaar die afdraai wat ons aanvanklik moes gevolg het. Van hier kronkel die pad al langs die kruin (teenoorgestelde rigting teenoor die verkeerde roete wat ons gevolg het) tot dit skielik na regs draai en dan word daar baie vinnig gesak. Die kaart dui die gedeelte aan as Banggat en as jy ʼn probleem met hoogte het, is hierdie die perfekte naam vir die gedeelte af teen die berg.

Skurweberg 4x4
Die gedeelte wat hul Banggat noem

Die roete sluit uiteindelik weer by die Ouberg pas aan en skielik voel die oop groot grondpad sommer baie lekkerder as die geskud van die laaste 2 ure.

Met die dat Jacques-hulle nog nie by die Africa Burn site was nie, besluit ons om eers ʼn draai daar te gaan maak voor ons op die R355 klim op pad Ceres toe. 

Die kinders is rustig en die country musiek blaas oor die radio soos die Cruiser die grondpad opvreet. Ek love alles daarvan.

Tankwa Karoo
Tankwa Karoo snelweg

My oog vang my petrolnaald – oh vrek (actually ʼn ander krag woord gebruik daai tyd). Ek skakel oor na my reserwe tank en die meter val sommer reguit verby empty – 2de tank heeltemal leeg. Ek skakel terug na my main tank toe en die naald stop net onder ¼ en ons is nog nie eers verby die Tankwa Padstal nie.

Nie lank gelede het ek en ou Jacques lekker gelag oor hy wat sonder petrol gaan staan het in die laaste dag van ons duine trip en soos die stand van sake nou lyk is daar ʼn groot moontlikheid dat die prentjie andersom gaan wees.

Persoonlik het ek nog nooit Tigger (ons 80 Series Cruiser) diep in sy rooi gery nie, want van die geleerde manne het aangeraai dat as sy petrol liggie aankom dan moet jy al begin soek vir ʼn petrolstasie. Ek breek die nuus aan Marli en sonder dat ek daar van weet hoor die seuns dit ook en skielik wil daar geweet word wat is plan B. Wel plan B (tweede tank) is alreeds deur die vergasser so ons moet dink aan plan C, wat Jacques sal wees wat voor ons ry.

So paar kilometer anderkant die padstal laat ek Jacques weet wat die stand van sake is rakende my petrolverbruik.

Die radio is stil…en dan kom die groot man se stem oor die radio: “Ou maat, my petrolliggie het nou net aan gegaan”

Die GPS wys +/- 70 kilometer na Ceres. My odometer staan op 740 kilometer en as my berekeninge reg is gaan ons eindig op +/- 810 kilometer (dit is as ons Ceres sou haal). Dit is 20 kilometer verder as wat die gemiddelde range is op my twee tanks saam is – daar is ʼn groot werklikheid dat ons dit nie gaan maak nie en om alles te kroon is Jacques reeds in sy reserwe so niemand het ʼn idee hoe ver hy kan gaan nie. 

Jean se stem raak ernstig en bekommerd: “Ok pa, niks grappies meer nie. Wat is die plan as ons petrol op raak?” Marli maak ʼn storie op om hom gerus te stel en al waaraan ek kan dink is wie in Ceres ken ek om te skakel sou ons gaan staan. Ek kyk na my foon en besef ons is nog buite sein. Dus, as ons twee nou gaan staan dan is ons eers lekker gesnoeker want ons sal niemand kan bel. Het besluit om daai stukkie nuus nie met die seuns te deel nie.

Afdraandes word daar gefreewheal om die nodige petrol te bespaar – of dit werklik werk, weet ek nie. Teen die Gydopas begin die knaap effe ruk en ek kan voel hoe 3 paar oë op my afkyk, maar niemand se ʼn woord nie.  Is ons hier nou op ons laaste…

Ceres kom al nader en met elke kilometer wat ons aflê raak die odds beter dat ons dit gaan maak. Wat nie snaaks gaan wees nie, is as ek 2 kilometer buite die dorp gaan staan sonder petrol.

UITEINDELIK glip ons by die naaste petrolstasie in en almal (kinders, vrouens… hel tot die petrol joggies was bly om ons te sien) glimlag breed. Groot les geleer en sal nie weer daai foutjie maak nie, maar as mens nou terugkyk daarna is dit wat ʼn avontuur so lekker maak – dinge gaan nie altyd reg loop nie.

Die laaste paar kilometer terug Wellington toe was darem sonder enige voorvalle en gelukkig met vol tanks, haha!

Tot ʼn volgende keer – cya.

Kliek hier vir ʼn paar fotos van hierdie roadtrippie van ons.

6 Comments

  1. Mariana Carosini

    Laat voel my nou – soos jare terug – wat ek jou “toere” en lewe leer ken het op Internet – HOE sal ek nie kan sê – want was nie baie bedrewe. Maar sederdien kuier en lekker saam met Jonkers. Dankie dat ek bevoorreg kan wees.

    1. Henry Jonker

      Haha, dankie Mariana. Man dit is nou maar in mens se bloed en ons is altyd jukkerig om in die pad te val.

  2. Gideon Louw

    Great, ook so 2jr terug moes om draai as gevolg van die rivier, moes toe mooi bid om Calvinia te maak vir Diesel. Ken daai gevoel.

    1. Henry Jonker

      Hierdie was ons 3de keer wat daai rivier ons gestop het Gideon. Die kort van die lank is, winter tyd moet jy nie eers probeer om daar deur te ry nie.

  3. Jacques Groenewald

    Puik naweek gewees, lekker as die horlosie nie die dag bepaal nie. Net n rivier en petrol.
    Altyd lekker om saam met julle te ry, n 3 dag trip is soos 3 weke se terapie

    1. Henry Jonker

      Haha, dit is so waar ou maat. Daai twee goedjies het ons amper groot probleme veroorsaak. Tot ‘n volgende keer.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *