Blog

Namibië se misterieuse landskappe

Die 3de en laaste been/week van ons Namibië toer het aangebreek en dit was tyd om weer na die Suide van hierdie ongelooflike land te beweeg.

Voor ons hierdie weeklange tog huis toe aanpak kuier ons vir 2 dae (dag 16 & 17 van ons toer) by Marina-hulle se strandhuis in Swakopmund.

Die tyd was gebruik om alles weer skoon (voertuie en klere) te kry en so ook die nodige proviand aan te koop. Lanklaas die arme kinders so sien blink!

Marina se reis het ongelukkig tot ʼn einde gekom en sy moes weer terug by die werk wees.

Terwyl Paul vir Marina lughawe toe neem is die vrouens die dorp in op hulle eie missie. Ons manne het nog so bietjie “sandduin ry” jukkerigheid in ons gehad en besluit dis tyd dat die jongspan bietjie eerstehands die gevoel kry hoe dit voel as jy ʼn duin storm met alles wat jy het. Wel nou nie met pa se 4×4 nie, maar liewers met ʼn gehuurde quadbike. As jy Swakopmund besoek is ʼn avontuur na die duine (enige iets van quadbike ry, fatbike ry, afgly by duine, skidive, kameel ry…) ʼn moet.

Swakopmund

Na die duine moes die sand natuurlik eers uit gespoel word met ʼn koue bier of 4 en die ideale watergat vir so ʼn taak is natuurlik die bekende Swakopmund Brauhaus.

Swakopmund

Dinsdagoggend, 2 Julie, word daar afskeid van Paul, Munnik & Streicher geneem, wat oppad is plaas toe naby Outjo.

Die res van ons is terug na Walvisbaai waar ons links draai op die C14 op pad Sesriem toe waar ons die aand sou kamp by Sossus Oasis (dag 18 van ons toer).

Die pad is aanvanklik goed en ons vorder vinnig. Die Country raas oor die radio en die kinders is doenig met hul eie gedagtes – dus ʼn perfekte atmosfeer in die ou 80 Series.

By die kort draaitjies in die Khomas area kry ons amper elke 10min ʼn huurvoertuig wat verby ons vlieg. Net wanneer jy dink dit is seker die laaste van hulle, dan kom daar nog een gly-gly om die draai. Om alles te kroon raak die pad ook so sleg dat ons letterlik amper uitmekaar skud.

By die Tropic of Capricon word daar eers gestop vir die nodige kiekie of 3 voor ons verder aanstoot.

Tropic of Capricorn

Uiteindelik by Solitaire en die koue biere waarna ons die laaste halfuur al uitgesien het, moet eers wag want my linkervoorband het ʼn tweestryd met ʼn klip verloor.

Dit is seker nie die regte medium hier om my eie naam met ʼn plank te voeter nie, maar na ʼn halfuur se verdomde gesukkel met ʼn Hi-Lift Jack is die voorwiel uiteindelik geruil, te danke aan Q20. As jy al met ʼn Hi-Lift Jack gewerk het, sal jy weet waarvan ek praat.

Die blêrry jack was gou vergete toe die eerste koue draft die keel af is. Na ʼn paar koue verversings draai ons die neuse links op die C19 en +/- 90km later ry ons Sossus Oasis kampterrein binne.

Kamp word op geslaan, ʼn vinnige bier was die stof uit die keel en dan is ons na die Sesriem Nedersetting om die bekende Sesriem Canyon te gaan besoek.

Sossusvlei

Terug by ons kamp is daar nie baie tyd om rond te kerjakker nie, want almal is opsoek na ʼn lang broek en netjiese hemp (wat nie ʼn khaki mag wees nie) want vanaand gaan ons die braaivleisvuur & vuil Coke’s verruil vir ietsie meer elegant en spesiaal by Sossusvlei Lodge.

Met die dat Mariette later die jaar haar 40ste verjaarsdag sou vier het sy besluit hoekom wag tot dan. Sossusvlei Lodge se buffet is wyd en suid bekend en gaste van orals oor die wêreld kom besoek hierdie stukkie juweel.

ʼn Ongelooflike ervaring en bly dat ons hierdie spesiale geleentheid saam met Mariette en haar familie kon geniet het.

Op ʼn ligter noot en iets wat ek altyd sal onthou. Met diè dat ons al ons rommel moes saamry tydens ons duine trip moes alle blikkies bier & koeldranke plat getrap word om sodoende spasie beter te benut in my asdrom sak wat agter een van die spaarwiele gehang het. Dus is die kinders so gewoond om hul koeldrank blikkies plat te trap dat toe hulle klaar is met hul koeldranke in hierdie netjiese plek, gevul met oorsese gaste, toe word die blikkies mooi oulik op die grond geplaas en dan word daar baie tegnies en aandagtig raad gegee om elk van hierdie blikkies so klein as moontlik plat te trap. Alles speel soos in slow-motion voor my af en voor ek kan keer word blikkie op blikkie deur elke kind plat getrap – ten aanskoue van geskokte gaste.. Hahaha!

Gou word daar verduidelik dat dit nie meer nodig is om blikkies te verwoes nie, want hier is nou geriewe waar dit weggegooi kan word.

Die volgende oggend (dag 19 van ons toer) word die bekende Sossusvlei (soms ook bekend as die Dooievlei) besoek. Hierdie was my 2de besoek aan hierdie dooie pan en ek moet sê ek was geskok deur die aantal toeriste wat terselfde tyd toegelaat word op die pan. Om die ikoniese foto te kry met die dooie bome is amper ontmoontlik want agter elke boom staan daar ʼn toeris.

Sossusvlei

Van Sossusvlei beweeg ons verder Suid op die C27. Die hoeveelheid huurvoertuie verbaas ons nogsteeds. Waar die verdomde goed vandaan kom verstaan ek nie, want dit voel amper of ons elke 10 minute verby een ry.

Ongeveer 60 kilometer later draai ons links en ry deur een van die mees kontrasterende gebiede waardeur ek al was. ʼn Grensdraad skei ʼn gebied waar die grond soos die Karoo lyk en as jy deur die veehek ry dan is dit NET klip. So ver soos die oog kyk is daar klippe en klippe en klippe. Geen teken van enige plantegroei nie. ‘n Paar kilometer verder en net wraggies ʼn grensdraai skei die klippe van ʼn gebied wat soos ʼn woestyn lyk.

As jy dit vir my vertel het om ʼn braaivleisvuur sou ek dink jy het dalk te veel geteug aan die vuil Coke’s, maar mens, dit is iets om te aanskou.

Ons tweede laaste kamp van hierdie 3 weke reis sou NamibRand Family Hideout wees. Die plaas is deel van die NamibRand Reservaat, wat die grootste privaat reservaat in Suider Afrika is. Die plaas het 3 privaat selfsorg kampe, elk met sy eie ablusie geriewe.

Namibrand Family Hideout

Die volgende oggend (dag 20 van ons toer) word die plaas eers verken voor ons die lang pad vat na Sendelingsdrif.

By Rosh Pinah word die voertuie vir oulaas in Namibië volgemaak voor ons aanstoot Sendelingsdrift toe waar ons die pont sou neem oor die Oranje Rivier. Nie lank terug het ons by die einste garage gestop om alles vol te maak op pad na ons duine avontuur.

Sendelingsdrif

Die tente sou vir ʼn laaste keer by Sendelingsdrift Rest Camp opgeslaan word. Die kamp is nie iets spesiaal nie en om eerlik te wees ek sal nie iemand aanraai om daar te kamp nie. Maar as jy saam met lekker mense toer maak dit nie regtig saak waar jy kamp/oornag nie, want dit is die mense en die kuier om die vuur wat mens altyd sal onthou & waardeer.

Van Sendelingsdrift beweeg ons na Springbok waar ons die laaste aand van ons reis by oom Rey Jansen Van Rensburg (bekende reisiger en toergids) sal oornag by sy Catnap Gastehuis.

Springbok

Geluk was aan ons kant en die man homself het vroeër die dag van ʼn toer in Angola tuis gekom en gou by ons kom inloer.

Ons Kaokoland toer (September 2020) word bietjie bespreek voor hy ons weer verlaat. Vuur word vir oulaas aangesteek en soos vele vorige aande om die vuur word die dag se gebeure bespreek.

Springbok

Saterdagmiddag 6 Julie en ons konvooi van 3 voertuie suiker Wellington binne. Ons toer van 21 dae het offisieël tot ʼn einde gekom. Blad word vir die laaste keer geskud en dan skiet elk in sy eie rigting.

Lees gerus die vorige artikels van hierdie reis hier:

Kliek hier vir meer foto’s van hierdie laaste gedeelte (week 3) van ons reis.

Volgende jaar pak ons die Kaokoland aan saam met oom Rey Jansen Van Rensburg. Dit gaan een vir die boeke wees met daai knaap wat die konvooi gaan lei.

Cya, tot ʼn volgende keer.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *