Blog

Tulbagh skou

Laat Vrydagaand sleep Tigger Tulbagh binne en dit is reguit skougronde toe. Die week was lank en die naweek kon net nie vinniger gekom het nie. Die woord het geloop dat hierdie skou die grootste van sy soort is, as gevolg van die hoeveelheid perde wat hier deel neem, maar vanaand gaan daar nie perde gesien word nie, maar samesyn gaan wel gebou word uit die boonste rakke.

Het vinnig ‘n lekker watergat so reg langs die paviljoen gekry en dit het nie lank gevat voor ons in ou bekende gesigte vasgeloop het nie. Stories van vorige trips het die lug in geskiet en die manne het ingelê vir alles wat hulle werd is.

Die plekkie het gewemel van mense en dinge het begin kook. As daar nie gedans word nie, word daar wyd en suid samesyn gehou. Die aand was lank en swaar op die liggame en ons het maar besluit om terug te skiet na tannie Jorina (Dirk en Gertjie se ma) wat verblyf vir ons gereël het. Aaai, slaap was maar net ‘n gedagte as mens saam met iemand soos Dirk kuier. Was lekker snoesig onder die kombersie na ‘n harde aand en hier kom die knap en sy vriendin Lyn in gestap met ‘n botteltjie polisiekoffie en nou moet daar vure aangesteek word. Hier gaan ons maar weer…

Saterdagoggend het die hoekom vrae ons oorval en ek het gebid dat ‘n weerligstraal my maar tog net moet uit haal want die pyn is net te veel vir die liggaam. Maar elke sport het sy beserings en na diep woorde van binne het ons besluit dat ietsie vir die maag dalk die situasie kan red.

Poplers mag maar die beste burgers in die dorp hê en kort op die hakke van die burgers is dit hulle voggies. By die skougronde het dinge lekker begin beweeg. Die veld voor die paviljoen was gevul met ruiters wat hulle stappies uitvoer. Ruiters & perde het van wyd en suid oor Suid-Afrika gekom vir hierdie geleentheid en so ook die besoekers by die skou. Die skou is nie slegs bekend vir sy perde nie, maar spog ook met een van die mooiste blomme uitstallings. Ja ja ek begin nie ‘n softie raak nie, maar bliksem dit het my voete onder my uitgeslaan, moet ek sê.

Het ook die geleentheid gekry om oom Jean Kotze (Organiseerder van die skou) te ontmoet en maggies dit is lekker dat mense so baie sal doen om hulle gemeenskap op te bou. Die gronde was gepak met stalletjies en motorvervaardigers het net hulle beste op skou gehad. Dinge het soos altyd weer lekker gegaan in al die verskeie watergate en mens kon wraggies vir niks meer gevra het nie.

Het die jaar al heelwat skoue bygewoon en elk het sy eie ietsie wat hom so uniek maak. Tulbagh is amper soos ‘n sprokieswêreld met sy stunning ligging. Die natuur en sy mense is groot positiewe punte in die geweste. Die weer het die Saterdagaand nie so lekker saamgespeel nie, maar dit het nie gestop dat Poplers gerock het nie. As perde en lekker atmosfeer jou ding is dan moet jy hierdie skou bywoon. Vir jonk en oud is daar vele om te doen.

Sondagoggend is ons gegroet met ‘n lekker nat en koue Tulbagh en na al die goodbyes het Tigger weer bene gerek. ‘n Groot dankie vir ‘n paar mense: oom Jean Kotze wat vir ons toegangkaartjies gereël het. Ons haal ons hoed af vir oom en oom se span vir ‘n stunning geleentheid. Vir Dirk en Gertjie dat ons by hulle ouers kon oorbly. Vir tannie Jorina wat 04h30 Saterdagoggend vir ons broodjies gebring het. Het eers gedog die tannie kom maak ons stil maar toe sy daar instap met ‘n skinkbord vol kos het ek gedog dit is hemel op aarde. En laastens ook vir Tulbagh en sy mense vir ‘n stunning naweek.

Die naweek was lank, die naweek was vol, die naweek was maar wraggies weereens lekker gewees.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *