Blog

Trans Baviaans 230km

Toe ek die artikel aangaande die Baviaanskloof in die WEG tydskrif gelees het, het ek geweet ek moet my voete in daai kloof kry een of ander tyd. Ag hel, my woorde was nog skaars koud, toe kry ek ‘n oproep van een van my vriende, Marthinus (Mat), wat wil weet of ek nie sy “support driver” wil wees in die Trans Baviaans resies nie. NATUURLIK IS EK DAAR. Uhmmm…wat is hierdie Trans Baviaans ding en hoekom het jy ‘n “support driver” nodig, het ek eers die volgende dag begin wonder…

Trans Baviaans is ‘n bergfietsresies waar die deelnemers die 230km deur die Baviaanskloof in minder as 24 uur moet klaar maak. Elke span bestaan uit ‘n minimum van 2 en ‘n maksimum van 4 deelnemers. Net bakkies en “off-road” voertuie word toegelaat as ‘support’ voertuie, want die pad laat nie toe dat sedan voertuie daar deur gaan nie.

Vrydagmiddag skiet vier (ek en Vicky vorm die support gedeelte en Martinus en sy ouboet, Francois, is die twee malletjies wat die kloofie gaan aanpak) van ons die langpad Willowmore toe. Net so voor 21h00 kom ons daar aan en stop by die Royal Herberg waar daar gou registreer word en ook gou so ietsie vir die maag gekry word. Daarna is dit reguit na ons gastehuis waar Mat en Francois hulle goed begin reg kry het vir die groot dag môre. Ek en Vic het maar net kop geskud en gewonder hoekom en waarom iemand deur soveel pyn en lyding wil gaan.

Saterdagoggend net so na ontbyt moet ek en Vic 08h45 raporteer by die Herberg vir ons briefing. Met ‘n pak kaarte & ‘n punch kaart spring Tigger weg. Met 500 deelnemers en seker 150 support voertuie maak dit hierdie resies een van die grootes in MTB resiese in Suid Afrika. Mat-hulle het so ‘n uur na ons weg gespring en hulle sou hulle eerste van 7 checkpoints eers by Rietrivier (48km van die begin) kry.

Die support voertuie hoef nie by die eerste twee checkpoints te stop nie en ons sal ons eerste verpligte stop eers by Doornkraal (123.8km merk) kry. Die eerste helfte van die kloof laat my baie dink aan die Karoo se ooptes en die droë kondisies. Ek moet sê die resies organiseerdes het ‘n stunning job gedoen met hulle kaarte en reis beskrywings.

Die laaste 30km na Doornkraal het wraggies konsentrasie gekos en ek en Vic moes ‘n hele paar keer dat ons nie uit Tigger geskud word nie. Tussen al die jokes en Tigger op die pad te probeer hou het ons Doornkraal so net na 12h30 bereik. Die plekkie was gepak met bakkies en 4×4 voertuie. Skottelbraaie het hulle verskeining gemaak en hier en daar het die manne hard geswig om die rugby (toets teen die Wallabies) op die radio te kry.

Een ding wat ek vinnig agter gekom het was die gees wat by so ‘n resies is. Hier word gees hard en aanhoudend gebou. Na ‘n ietsie op die skottel en so paar koues het die rustigheid ons betree. Ons het soos twee dassies in die son gesit en elke oomblik van die stilte geniet. Die eerste span was net so na 14h00 in. Mens kon sien die knape het die ding so bietjie meer ernstig aangepak en was seker nie langer as 10min daar nie.

Mat en Francois het net na 16h30 hulle verskyning gemaak en ek was verbaas hoe goed die knape gelyk het. Watersakke was gou vol gemaak, ietsie vir die maag gegee en daar sleep die Willeklong span weer.

Volgende checkpoint is Bergplaas wat so 19.3km verder is. 19.3km mag dalk nie baie wees nie, maar dit is die moeilikste stage van die resies. Die 19.3km is teen M.A.C (Mother of all climbs) uit. Met ons uit check by Doornkraal het die beamptes ons voorspoed toe gewens en ek kon dit werklikwaar nie verstaan nie. Hoekom wens hulle nou vir ons voorspoed? Ons het mos die maklikste gedeelte. Maar mense na so 3km van deur riviere gaan en reguit stukke het die klim begin.

Ons het ons self in ‘n konvooi van +/- 6 voertuie gevind en nou was daar nie kans van “oeps ek kan nie hier uit kom nie”. Op party plekke het dit gevoel asof ons in ‘n full on 4×4 roete is en ek was skoon verbaas dat Tigger ons daar uit gekry het.

Net soos die son begin onder gaan het het ons by Bergplaas aan gekom. Hierdie was seker die mees asemrowendste en hoogste checkpoints van almal. Die son het sy strale weg gesteek en die wind het die sneeu se koue deur ons geblaas. Die skottels het weer hier en daar uit gekom en die keer ook so ‘n paar tente.

Mat-hulle het seker so +/- ‘n uur na ons daar aangekom en weereens het die ouens goed gelyk. Mens sou nie glo hulle het nou net 143.1km af gelê nie. Kop en fiets ligte het hulle verskyning gemaak. Met dié dat die koue wind nie genoeg was nie het die wolke stadig maar seker hulle bakke oop gemaak en dit het liggies begin reën. Na ‘n ton warm klere, swart sykouse vir legwarmers, vol watersakke en genoeg kos vir die volgende stretch het die ouens die gevaarlikste gedeelte van die resies aagepak. Die is nou die kloof af en dit in donkerte.

Die stuk van Bergplaas na die tweede laaste checkpoint, Heron Cliffs, was 90% afdraende en hier het ek net weer besef hoe mal hierdie ouens is wat deelneem aan die resies. Dit reën liggies, dit is pik donker en die pad is verby die woord swak en dan kom hulle met een stink spoed en jaag verby ons. Ek en Vic is daar af met ou Tigger wat ons amper ‘n paar keer uit gegooi het, so het ons geskud. Dit was nou vet pret.

Na 30km (173.1km in totaal) het ons uiteindelik by Heron Cliffs aangekom. Die dag se travel het sy houe op my en Vic begin vat en die oë het begin swaarder raak. Vic het so ‘n teetjie aan mekaar geslaan en dit het darem gehelp totdat die res van ons mal span by ons aangesluit het. Mat en Francois het begin houe vat en mens kon sien hulle sou wat wou gee vir so ‘n bietjie slaap. Hulle skouers en arms was bietjie sat van al die geskud teen die berg af. Die ding van hierdie tipe resies is dat jy nie te lank kan rus nie, want dit vat net langer om aan die go te kom daarna.

Na ‘n koppie tee en so paar kaasbroodjies is hulle weer terug in die pad. Na so 4km split die deelneemers se roete van die van die support voertuie. 32.1 km (205.2km in totaal) later kom die twee roetes weer by mekaar by Suurbron wat die laaste checkpoint vir die support voertuie was. Die koue weer het regtig nie meer begin saam speel nie. Omdat Tigger so vol gepak is het ek maar skuiling onder die knaap gesoek. Vic het besluit hy sal maar voor in die kajuit sit/slaap.

Net so voor 13h30 jaag ons twee mal trawante Suurbron binne. Beide het in die donker so stukkie aarde gekoop, maar gelukkig het hulle nie erg seer gekry nie. Die manne was nog vol gees en lus vir die laaste 20 km na die einde wat by Kabeljous Holiday Resort was.

Ek en ou Vic het die laaste 20km gou-gou agter die rug gekry en met ons aankoms by Kabeljous Holiday Resort het ons solank die manne se tent vir hulle opgeslaan. Moet sê die geluk het ons die hele resies gevolg, want net soos ons die laaste pen vas maak het dit begin reën. Dit is koud, nat, wind waai verwoed en waar is span 142 (Willeklonge)? 03h00 Sondagoggend jaag Mat en Francois die eindstreep oor. Die manne is vol smiles en mens kan nie glo hulle het nou net 17uur (230km) in die saal deur gebring nie.

Moet sê dit was nogals ‘n great feeling gewees om deel van so ‘n unieke event te wees en ek haal regtig my hoed af vir enige Trans Baviaans deelnemer. Vir manne wat glad nie eers voorberei (tipies Willeklong tradisie) vir die resies nie is 75 uit 156 spanne wat klaar gemaak het wraggies ‘n handeklap werd.

Sondagaand 20h00, na 1,200km die naweek sleep Tigger die Kaap binne. Dit was ‘n lang en harde trip spesifiek vir Mat en Francois, maar een wat nie sommer gou sal vergeet word nie. Baie geluk aan al die spanne wat die resies klaar gemaak het en ja die Trans Baviaans is nie vir sussies nie.

“Who said super heroes are only found in comic books”

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *