Blog

Jam Rock fees

‘n Rock festival in Ladismith? Is dit ooit moontlik? Jup, hulle het hierdie jaar (2004) een op die been gebring en dit die “Jam Rock Festival” gedoop. Nou hoe kan ‘n mens so ‘n gulde geleentheid misloop om ‘n fees in sy junior stadiums te mis? Eendag is die fees moerse populêr en dan kan ons terugdink aan die heel eerste een.

Meeste van die boys het ander verantwoordelikhede gehad, so dit was net ek (Henry) en Vicky van Willeklong wat deurgeskiet het soontoe. ‘n Goeie pal van my, Diana, het ons ook vir die trip gejoin. Diana is een van daai girls wat alles en meer van die SA bands weet, so ons het die Knowledge Factory van SA musiek by ons gehad. Ek en Vicky se musiekkennis is maar gevaarlik en ek dink ons sal onsself seermaak as ons oor die onderwerp moet praat. Maar dit wil ons verander en dit is een van die hoofredes hoekom ons hierdie festival wou bywoon.

Die line-up van bands by die show was huge. Shit, daar was tonne. Van Fokofpolisiekar, New Porn, Delta Blues, Boulevard Blues Band, Jesse Jordan Band en Akkedis, om net ‘n paar te noem. Die venue was ideaal. Dit was op ‘n olyfplaas nes jy by Ladismith inkom. Dit was seker so +/- 200m vanaf ons tent na die stage in die groot marquee tent. Alles was goed beplan gewees en selfs die weer het saamgespeel. Die infrastruktuur van die festival was spot-on. Die enigste ding wat teen die festival getel het was die feit dat dit die birth show was. Daar was nou nie tonne mense gewees nie, maar ek dink dit gaan elke jaar net groter en groter word en dit gaan nie lank vat voor dit in die top 5 inskuif nie.

Vrydagaand het ons relatief laat daar aangekom en onmiddellik is dit stage toe. Gewapen met ‘n bier in die hand het ons die laaste drie bands gecheck, Delta Blues, Jesse Jordan Band en die manne van Fokofpolisiekar. Die boys het hard gerock en ek kon nie glo dat ons local musiek so gesond is nie. En hier sit ons en koop al die oorsese kak in plaas daarvan om ons local ouens te ondersteun. Toe al die shows klaar was het ons saam met Fokofpolisiekar in die marquee tent verder gekuier. Moer cool ouens – en vir manne wat ‘n stage woes kan seer maak, is hulle vrek rustige ouens as hulle van die stage af is. Hoe laat ons by die huis gekom het sal ek nou nie weet nie; al wat ek weet is dat ons een moerse lekker party gehad het.

Saterdagoggend vroeg, en daar word sommer onmiddellik Polisiewater (brandewyn-en-coke) gegooi. Vir die eerste keer het ons die omgewing om ons mooi beloer. Diana het soos n ware kampeerder haar braaimasjien aangeskop, terwyl ek en Vicky soos ware Willeklonge nog ‘n dop gegooi het en gereken het ons sal maar Sondag ietsie eet as ons klaar gekuier het. INCOMING!!!! Bliksem, hier word ‘n rugbybal gegooi. ‘n Ou is mos ‘n stupid ding. Hy is mos mal oor ‘n bal soos ‘n hond oor ‘n been. Met liggame wat nie meer gemaak is vir hierdie tipe sport nie het ons soos mal kinders op ‘n veld vol duwweltjies gespeel. Die musiek het lekker gedoef-doef en Diana wou soms net verdwyn van die aarde as ek en Vicky daai Boeremusiek aan skop. Dan word daar lekker gesakkie-sakkie en die voggies word net lekkerder.

Toe ons vroegmiddag by die stage kom, het oom son sy koppie begin uitstoot en ons het maar besluit dat die marquee tent die veiligste is. Na ‘n lekker kuiertjie saam met nuwe palle, het ek en Vicky besluit ons wil graag die bekende Royal Hotel gaan besoek waarvan David Kramer so lekker sing. Teen hierdie stadium het ek en Vicky maar woes gelyk en ons het maar geworry dat hulle ons nie in die bar gaan toelaat nie. Soos jy die bar inkom, kan jy sommer voel dat hier al lang jare gekuier is. Elke ding teen die muur was perfek op sy plek, asof dit daar moet wees. Die bar was nie so vol nie, maar die wat daar was, was almal locals. Hier stap ons twee groen blare in met shirts wat sê “Dronk wees is ‘n vorm van jonkwees”. Maar nes die platteland is, het mense hulself kom voorstel en voor ons ons kon kry toe kuier ons of ons al vir jare pals is. Ou Chris (barman, en die eienaar se seun) het die bar gerun asof hy dit al vir jare doen. Fris bliksempie, en is mal oor sy brandewyn en coke. Chris se pa (eienaar van die hotel) is nie ver nie en die oom is mal vir sy Wellington brandewyn. Daar was gekuier en daar was gesing. As David Kramer se song van “Hier sit die manne in die Royal Hotel” opkom dan sing elke ding wat leef en beef in daai hotel. Dit is ‘n moerse belewenis – dit gee my sommer hoedervleis as ek terugdink daaraan. My ou maat, Vicky, het ook nie op hom laat wag nie en was meeste van die tyd agter die bar om vir Chris te help. Ek het maar net my kop geskud en gelag want ou Vicky was so paar sekondes stadiger as Chris in alle opsigte.

Terug by die feesterrein gekom het ons weer verder gerock saam met die crowd. Dit was ‘n lang, harde aand, maar een wat nie gou vergeet sal word nie. (Veral die trippie terug tent toe deur al die doringbome en modderwater.)

Vroeg Sondagoggend het ons maar besluit om ons TB op te slaan en die lang pad terug Kaap toe te vat. Mense, hierdie is ‘n fees om dop te hou in die toekoms.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *