Blog

Hike na die Hel in Porterville

Dit is Vrydagaand en Tigger is al weer op die langpad. Dié keer is dit Porterville toe, waar 5 van ons, Vicky, Ron (Ruan), Parmalat (Paul), Eugene & ek, die hike na die watergat, Die Hel, gaan aanpak. Die Hel is so rukkie gelede deur die tydskrif WEG aangewys as die beste swempoel in Suid-Afrika. Hoe de hel kan ‘n Willeklong dan nou so ‘n gat water mis.

By Porterville aangekom, besluit ons om net gou een knertsie te gaan maak by die Hotel voor ons Beaverslack toe skiet. Met verlede naweek se een-knertsie episode nog vars in die geheue, het ons maar skrikkerig die glasie voggies afgegooi. Die dame by die hotel het aanbeveel dat ons darem een knertsie moet kry by die dorp se local Bushpub ook, voor ons oor die berg gaan. Nou hoe kan ons dan nou nee sê vir ‘n tante wat ons smeek om daar n draai te gaan maak.

Toe ek die plek sien, toe voel ek soos Gavin van den Berg in “Ballade vir ‘n Enkeling”. Die plekkie is wraggies langs die treinstasie geleë en jy parkeer fisies langs die platform. Die plekkie was maar effe stil – totdat ons die jukebox gesien het. R2 vir twee songs is darem wraggies duur, maar as daar geen ander musiek speel nie, dan laat jy die sente hol. Voggies het begin vloei en net voor dinge begin lyk het na nog ‘n vroeë oggendure episode, het ons maar die tog na Beaverslack aangepak.

Dit is wraggies berg-op en dan weer berg-af aan die ander kant. Was maar donker en ons kon nie werklikwaar die plekkie verken nie. TB (tent) het opgeskiet en Tigger (bakkie) het gaan slaap. Ron en Eugene het ‘n vuurtjie aanmekaargeslaan terwyl Parmalat die eerste rondte vir die manne gegooi het. Nou ek kan vir ure en ure oor die aand se gebeure skryf, maar ek dink al die manne wat daar betrokke was sal stem dat ons dit liewer daar los en direk na die begin van die hike toe spring.

Ons het die Saterdagoggend so +/- 10h00 by die Groot Winterhoek Wildernis gekom, waar ons Tigger gelos het en die dun paaitjie deur die veld aangepak het. Dit was Ron en Eugene se eerste hike en mens kon sommer op die gesigte sien hoe opgewonde hulle was. Parmalat het amper gevrek van al die rondskud agter op die bakkie, en het die hike maar bleek/dood begin. Vicky het, soos met elke trip, met bloedbelope oë begin van die vorige aand se gehuilery. Dié keer was dit nie oor girls wat hy nie ken nie, maar omdat ons hom nie toegelaat het om sy opblaaspop die vorige aand in die tent in te bring nie. Dit het mooipraat gekos, maar hy het later gekalmeer en opgehou huil. Yes, en daar gaan ons.

Van Groot Winterhoek Wildernis tot by ons oornag hut, Die Tronk, is dit so +/- 13.5 km. Die roete is ideaal vir beginner stappers en is werklikwaar nie so tough op die liggaam nie. Volgens Vicky lyk dit baie soos die Cederbergroete, want daar is maar vrek baie klippe rondom jou. Party van hierdie massiewe goed balanseer op klippies kleiner as my vuis en dit het ons wraggies gefasineer. Water is volop en jy hoef nie ekstra te dra in jou sak nie. Plek vir stop is daar ook baie en die roete kan maklik in 4 ure gestap word. Die weer was gelukkig aan ons kant en ons het darem nooit nodig gehad om die baadjies uit te haal nie.

So 80% deur die roete het ons die 4×4 roete na die Die Tronk gekry. Julle wat baie hike sal weet, sodra jy ‘n jeep track kry, dan weet jy jy is nou amper by jou bestemming. Eugene het so effe begin lyk of hy houe vat, maar kreun en steun sal jy nie van daai seun kry nie. Hy sal eers neer bliksem voor jy sal besef hy suffer. Parmalat het soos gewoonlik soos ‘n lekkende melklorrie gelyk en was weereens papnat gesweet. Vicky se laaste 200m was so bietjie freaky, want hy het ‘n paar keer amper sy gat gesien van nie sy voete behoorlik optel nie.

Die Tronk is ‘n ou plaashuis wat in die middel van nêrens staan. Die views van die huis is ongelooflik en mens kan nie glo dat mense daar ‘n huis kon gebou het nie. By die huis is daar ‘n garage met ‘n solder waar stappers skuiling kan soek as die weer teen hulle draai.

Nou van Die Tronk na Die Hel is dit +/- 5km. So daar is toe besluit om die sakke by die plaas te los en dan net met een day-pack voort te gaan. Die eerste stretch van die hike is relatief reguit en meeste daarvan is deur fynbos, maar daarna begin dinge scary raak. Op die kaart het hulle genoem dat dit bietjie gevaarlik kan wees, maar goeie hel, toe ek sien hoe vinnig ons sak, toe word daar woes begin bid. As jy hier nie jou trap reg trap nie, gaan jy baie vinniger as die res onder kom, en dit is nou nie my manier van grond toe gaan nie.

Die Hel is ‘n poel in die middel van hierdie massiewe kloof en dit is asemrowend. Toe ek die foto’s in die WEG gesien het, het ek reeds so gedink, maar om werklikwaar daar te staan en te kyk na hierdie poel water, laat jou hart bons soos n resiesperd wat op steroids is. Vicky het weer begin huil omdat dit so mooi is. Ag nee hel, ons sal vir daai ou ‘n girl moet kry, lyk dit vir my. Parmalat het sy maag probeer intrek om soos n trotse strapper te lyk, maar ek dink nie eers sy maag het kleiner geword nie. Eugene was ons een kop voor en het eerste die watergat betree. Nou as jy sien hoe jou pêl blou raak van net in ‘n poel water spring dat weet jy dat leeukoud soos n laerskool grappie lyk. Dit is nie koud nie, maar (*(*#@_@# koud.

Na ‘n hele blerrie fotosessie, het ons maar die 5km terug na ons sakke toe aangepak. Ek het nou al geleer dat, vir elke afdraend wat daar is, is daar mos altyd ‘n simple opdraend ook, en die een was woes. Parmalat het voor gevat, met die kortgatte Ron en Eugene kort op sy hakke. Ek en Vicky het die stert opgemaak. Stadig maar seker het ons op en op en op en op gegaan. Later was dit hande viervoet, maar op moet daar op. Uiteindelik bo, het ons vir die laaste keer die gat beloer, waar ons nou-net was voor ons die laaste stretch sakke toe aangepak het.

Terug by die plaas (23km vir die hele dag) het Eugene en Ron vir ons ‘n vuurtjie aanmekaargeskop. Kossakkie is leeggemaak, en toe ons sien wat uit Eugene se sak kom, kon ons verstaan hoekom die kind begin bleek raak het later in die hike. Die man het amper die hele blerrie Spar saamgedra. Van kondensmelk tot ‘n groot boks vla. Ons het maar net kop geskud en lekker gelag. Maar hey, dit is hoe mens leer. Ek kan jou waarborg dat hy nie weer die helfte van die Spar gaan saamdra nie. Vicky en Parmalat het chef gespeel en teen my wil moet ek seker sê dat die kos wraggies lekker was. Shit, dit het nou seergemaak om daai twee ape ‘n kompliment te gee…

Na ete was daar besluit ons sal sommer so onder die sterre kiep. Slaapsakke is in ‘n ry gegooi en dit was nog nie eers 20h00 nie, en 5 ouens was vas aan die slaap. Ek het weer begin droom van Michelle (of wat ookal haar naam is) en hoe sy my rondjaag in my kamer, toe Parmalat soos ‘n army instrukteur begin skreeu: “Dit reën BLIKSEMS. Elke pisgat vir homself.” Shit, hoekom nou? Michelle was net besig om my belt los te maak in my drome en nou kom die mal aap en gil op my. Sakke word gegryp en dit is reguit op na die solder. Met geen sagte ding in sig nie, het ons maar stelling ingeneem op die plankvloer. So deur die paniek en keer dat ons nie moet natreën nie deur, het ons skoon vergeet om Eugene wakker te maak. Dit is eers toe ons almal rustig net aan die slaap begin raak het, toe die arme kind daar ingefoeter kom. Michelle was so befok vir my en het my nie toegelaat om verder oor haar te droom nie. Vicky het met ‘n smile gaan slaap – die klein snot, so sy moes seker Batgirl in sý drome gaan speel het.

Sondagoggend was daar vroeg in die pad geval. Dit was nou net 13.5km terug Tigger toe. Eugene het leiding geneem en die seun het gestap asof hy vir ‘n rekordtyd gaan. Dit het my nie verbaas nie, want ons het darem daai 40kg kos wat hy saamgedra het opgeëet. Vir my was die roete terug baie stil gewees en ek het van die tyd gebruik gemaak om oor dinge in die lewe te reflekteer. Ons is soms so besig in die week dat ons nie werklikwaar tyd vir onsself het nie, en siedaar, hier het ek nou 13.5km waar ek lekker kan droom/dink. Parmalat, Vicky & Ron het die agterhoede opgemaak en het glad nie opgehou praat totdat ons Tigger bereik het nie.

Sondag se 13.5km het verskriklik vinnig gegaan en voor ons ons kon kry toe is ons weer terug by Tigger. Elke lelike gevreet (dit is nou ons almal) het ‘n smile gekry en daar was hand geskud op nog ‘n suksesvolle avontuur. Op Piketberg het Parmalat se ma vir ons ‘n ware koningsmaaltyd voorberei. Dit het amper gelyk asof dit ons laaste maaltyd gaan wees, soos die ouens ingepak het. Net wat ‘n seer liggaam nodig het.

Mense, die Hel is werklikwaar ‘n stunning poel, en ‘n moet. As jy ‘n 4×4 het, kan jy die jeep track roete vat tot by Die Tronk en dan net die laaste 5km afstap na Die Hel. Vir die brakke saam met wie ek gegaan het, moet ek seker dankie sê. Thanks dikGAT (Paul), kortGAT 1 (Ruan), kortGAT 2 (Eugene) en huilGAT (Vicky) vir ‘n stunning avontuur en ek hoop nou julle trou of iets sodat julle nie meer hoef saam te kom nie…whahahaha. Ter afsluiting wil ek net sê dat my wit rekenaarkuite wel ‘n tan gekry het…of so dink/hoop ek darem. Thanks boys!!!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *