Blog

Kamp by Algeria

Verlede naweek het ek net weer besef hoekom ek Willeklong +/- 3 jaar gelede op die been gebring het. Dit is daai voertuig wat jou toelaat om net jou slaapsak te gryp en weg te breek van die stad, en natuurlik alles wat daarmee te paard gaan. Soms is dit sommer iets wat almal die Donderdagaand om ‘n vuur besluit het en voor jy jou oë kan uitvee is ‘n vrag wetters die volgende dag in bakkies en êrens op nog ‘n avontuur in Suid Afrika. Bliksem, dit is mos hoe die lewe moet wees!

So word daar gereël dat ons die naweek die tente bietjie gaan toets by Algeria in die Cederberge, maar tussen werk, griep, finansies, blablabla het meeste laat weet hulle kan dit nie maak nie. My gat jeuk vir die berge en dit voel of ek jare laas daar was. Die weervoorspelling lyk nie goed nie en al die kaarte dui daarop dat ons die trip maar moet skip en iets rustig vir die naweek moet beplan.

Ek en M bespreek ons opsies en die besluit is unanimous – ons gaan voort al is dit net ons twee en al lyk die weer of dit ‘n riller gaan wees. Die agenda is baie eenvoudig: kamp Vrydagaand onder by Algeria en dan Saterdagoggend teen die berg uit waar ons beplan om oppad Middelberg toe te kamp.

21h30 Vrydagaand ry ons Algeria se hekke binne en die wêreld is leeukoud. Dinge gebeur teen ‘n vinnige tempo en in ‘n paar minute is die tent op, vuur loop soos ‘n jet en die eerste brannas word rustig om die vuur geniet. Die area het baie reën die afgelope tyd gekry en die rivier (+/- 3 meter van ons tent) loop sterk. Die geluid van water is stimulerend en na ʼn lekker steak en blikkie vrugte is dit in ons tweemantent en reg vir ‘n bietjie rus.

Saterdagoggend word ons wakker met stunning views van die Cederberge om ons. Die oggendluggie sny deur my longjohns en eers later besef ek dat ons bietjie reën gekry het die aand. Koffie en beskuit word die keel afgejaag voor die sakke gepak word vir ons trippie die berg op. Die tweemantent word tussen ek en M gedeel en nadat alles gecheck en weer gecheck is pak ons die knaap. Die weer lyk goed en net hier en daar is ‘n wolkie. Mis hang nog so stuk stuk in die vallei maar dit is maar net die freaken koue wat nie wil weg gaan nie.

Die eerste gedeelte waterval toe gaan maar stadig en ons besef net hoe onfiks ons die afgelope paar maande geraak het. Sleg wetters – ek skaam my sommer. Kry ‘n familie halfpad wat ook oppad waterval toe is en met hulle een dogtertjie, Emily, wat 5 jaar oud, wat tot die dood belowe dat sy nog nooit vloekwoorde met F gebruik het nie; dit was nogals vrek snaaks om na haar te luister oppad waterval toe!

By die waterval aangekom word ‘n koppie sawwelyf (koffie) en pakkie tuna die keel afgejaag. Halfpad deur ons break begin die weer sy rug op ons draai en binne minute begin die eerste druppels val. Splash covers word opgesit en die ponchos word uitgehaal. Ons het mos geweet dit gaan nie sonskyn en rose die heelpad wees nie!
Halfuur later is ons weer op die roete en die zig zag op teen die berg gaan voort. Die ligte reën word nou al hoe swaarder en om net daai bietjie spice by te sit word dit nou vergesel deur ‘n ligte, irriterende windjie wat heeltyd die damn poncho’s uitmekaar waai. Jy maak mos nou nie ‘n sambreel in ‘n knaap se dinges oop nie. Geen tekens van mis en omrede ek die roete al vantevore gedoen het, is daar geen rede hoekom ons moet omdraai nie.

Soos ons plato bereik begin dinge effe rowwer raak en ek besef ons gaan nie die grasvelde oppad Middelberg toe maak as ons nog iets droog wil hê nie. Al ons kit / gear is in plastieksakke binne-in ons rugsakke, maar nou val die water teen een helse tempo en die wind bring ‘n koue wat mens nie alledaags kry nie.

Kry die eerste, beste oop gedeelte tussen al die rotse en met die spoed van wit lig staan ta se tent. M is onmiddellik in met al die gear terwyl ek soos ‘n afkop hoender rond hardloop om al die tonne toue met klippe vas te maak, want tentpenne gaan nie werk op ʼn klipbank nie. Uiteindelik binne die tent en in warm klere word daar lekker gelag vir die k*k waardeur ons nou net gegaan het.

Hier sit ons twee in die middel van die Cederberge met geen siel naby ons nie en dit reën ‘n hond uit ‘n bos. Eish dit kan mens mos nie oorvertel nie. Dit laat mens weer soos 12 voel as jy en jou sjommas sekere naweke in jul boomhuis geslaap het. Later die middag maak die hemel vir so paar minute oop, net lank genoeg om die nodige natuur goed te doen voor dit weer neersak op ons.

Tussen kaart speel, M se Cosmopolitan, bak pasta en natuurlik ‘n bottel soetwyn kan dinge net nie beter gaan nie. Met die son wat onder is het die koue in alle mag uitgekom en teen die tyd het ons nou al ons klere aangehad wat nog droog is. M gebruik natuurlik my Kili slaapsak terwyl ek my ou lugmag slaapsak gebruik wat net bietjie dikker as ‘n laken is.

Bulle, daai aand kry hierdie knaap mos nou vir jou koud. Wil mos nie leer nie en het al hoeveel keer belowe ek gaan matrasse koop, maar kom nooit daarby uit nie en nou voel ek daai koue van onder met alle mag. M is uit soos ‘n kers in daai lekker dik slaapsak en sy snork soos ʼn stoetbul. Die liggaam is nie meer gewoord aan die harde grond nie en elke paar minute moet ek maar omrol om die ander sy ‘n kans te gee.

Dit raak later so erg dat ek die stofie in die middel van die aand moet aansit net om hitte in die tent te kry want ek is net duskant om my onderbroek weg te vries. So gaan dit die hele aand aan met die weer wat ook net nie beter raak buite nie.

Volgende oggend word ek wakker na seker 3 ure in totaal se slaap en besef beide ons selfone is pap. Die batterye het nie gehou met die koue nie. Ons moet 12h00 terug in Somerset Wes wees, want ‘n klomp pals kom vir ete so met geen tyd tussen ons nie besluit ons maar die beste is om kamp op te slaan en so gou as moontlik onder te kom.

Die weer speel mooi saam en vir so 15min is daar geen wind en reën terwyl ons die tent opslaan en weg pak nie. Die roete af was one way traffic en beide het geweet ons moet wikkel as ons betyds by ons gaste wil wees.

Soos ons die berg afsak kry ek net hierdie smile op my bakkies want ek besef net weer hoe gelukkig ons is om al hierdie voorregte om ons te hê en al wat dit kos is om net jou hand uit te steek en dit te vat. As jy by die huis aldag gaan sit gaan jy eendag besef jy het jou gat lam gesit en nooit gelewe nie.

Al het ek my ass verby af gevries op daai berg sal die avontuur lank in die geheue ingebrand wees.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *