Blog

Richtersveld toer

01h30 Vrydagoggend trek 4 bakkies Vic se oom-hulle se plaas binne wat net so voor Springbok in die koppies lê. Die gatte is lam en almal smag na ‘n koue brannas en coke. Is nou al die tweede keer wat ons hier oornag en nog nooit het ons die plek in die daglig gesien nie. Brannas loop soos ‘n jet en as dit nie vlermuise is wat jou aanval as jy ‘n stukkie grond buite natmaak nie kry jy op jou moer in ‘n game Courage. Name word gat gemaak en samesyn loop soos ‘n weghol jet. 05h00 maak die laaste ogies toe.

06h30 Vrydagoggend begin die slaapsakke lewe kry. Die koppe is seer en die ogies wil nie saamspeel nie. Bakkies word gepak en 09h00 is die konvooi weer aan die gang. Op Springbok word al die bakkies en jerry-cans volgemaak en dan is dit Steynkopf toe waar ons links wegdraai van die N7 en op die R382 klim Port Nolloth toe. Die wêreld is dor en dood en daar is meer hare op Parma se gat as wat daar bome is in die hele distrik.

‘n Donker misbank hang oor Port Nolloth en die seereuk is oordonderend op party plekke. Laer word getrek langs die see en ‘n brunch word aanmekaar geslaan voor ons die eentonige stretch Alexander Baai toe aanpak. Daar aangekom maak almal seker die bakkies en waterkanne is 110% vol want van hier af gaan ons nie diesel, petrol of drinkwater kry nie.

Van Alexander Baai breek ons weer weg van die see en word daar in ‘n Noord-Oostelike rigting ingeskiet reguit vir die Richtersveld Nasionale Park. Die bulle sit die swaar voet neer en dit is net stof en klippe soos die hele konvooi oor die grondpaaie sleep.

So net na 17h00 Vrydagmiddag stop ons uiteindelik by Potjiespram in die Richtersveld. Die hitte en stof vreet en sy saak werk op almal en daar wil nou net water op die gesig kry en ‘n koue bier die keel af. Terwyl die girls vir die toilette soek sleep ons vrag ouens Oranjerivier toe om die lywe in die water te kry.

Parma het ‘n skaap laat slag vir die trip so vleis was volop en die knaap haal sommer groot tjops uit vir ons eerste aand langs die rivier. Met 5 streepsakke hout vir die hele trip moet daar mooi beplan word dat ons nie sommer al 5 klaar brand op ons eerste aand nie. Mens weet mos hoe dit is – as die kuier hard en aanhoudend loop brand en drink jy sommer jou hele trip se voorraad op en dan kou ons klippe vir die res van die trip.

Hoe later hoe kwater en ons is brannas se baas. Vat ‘n blikkie ingelegte vrugte wat 2001 al expire het wat Vicky tussen sy gear gekry het en voeter so twee gloegloes Witblitz daarin, roer liggies, los vir ‘n paar minute, kry die grootste soplepel wat by die blikkie se bek kan inkom en jy het ‘n resep wat die novilon skoon van ‘n toilet sal afhaal. Die girls kyk ‘n drinking game diep in die oë terwyl die manne om die vuur groot resepte ontwikkel hoe om die pense kleiner te kry.

Saterdagoggend word ek met dieselfde kopseer en droë bek wakker. Dikgat Vicky lê ‘n matras goed in sy moer en vir ‘n split sekonde kry ek die matras skoon jammer. Stadig maar seker verskyn ‘n dooie siel uit ‘n tent. Vandag se stretch na Rigtersberg toe is maar net 80km so daar is nie ‘n moerse gejaag om op die pad te kom nie. Aaai as ons maar net geweet het wat vir ons wag sou ek al 06h00 op die pad wou gewees het. Die local gemeenskap, ape, sak op ons TB (tydelike basis) neer en die klein bliksempies is lekker hans. ‘n Sak appels maak sy verskyning en aap se kind moet vlug vir sy lewe want ek weet nie hoe die knapie gaan lyk as ‘n 120km/h appel hom tref nie.

Die son is sommer vroeg besig om die pap dik aan te maak en wind is ‘n relatiewe begrip. Vandag gaan ons klippe k*k in hierdie son boys en ons is hier met ons eie wil. Die roete is maar effens k*k en die diff-locks moet hier en daar aangeskakel word. Gelukkig het al die bakkies diff-locks en is Parma se Isuzu darem ‘n 4×4. Maar die kaart wys darem nie dat ons dit gaan nodig hê nie….whahahaha…volgende keer moer ek daai kaart in daai blikkie vrugte en vreet dit ook sommer op. Vir die wat nie weet hoe die Richtersveld lyk nie verbeel jou ‘n kleiner weergawe van die Drakensberg en haal +/- 99% lewe daaruit. Hang een bef*kte son bo dit en steek die water weg en walla jy het die Richtersveld. Het nog nooit ‘n droë, doeie plek soos dit in my lewe gesien nie. Hier kry jy nie sand nie. Jy kry poeier sand wat warmer as die hel is.

Die roete raak k*kker maar dinge ruk en pluk aan. Vicky se CD player spring soos ‘n blinde springbok en mens kan nie een song luister sonder dat die ding spring nie. Dog ek moer hom sommer met sy eie radio. Die knaap lyk sleg en mens kan sien hy droom nog steeds van daai witblitz cocktail van hom.

Soos ons die een koppie afkom sien ons Parma se Isuzu begin neus op trek vir ‘n oop vlakte sand. Gelukkig stop ons betyds om te besef dat die stretch wat voor ons lê nie grond is nie, maar los sand. Hy klip sy 4×4 caps aan en trek die knaap stadig die sand uit. Vir die res van ons om hier deur te kom gaan ons spoed nodig moet hê. Diff-locks word aangesit en Heinrich met sy Colt 3.0 V6 is eerste. My maat my maat daai bakkie het net hier en daar grond geraak soos daai V6 deur daai sand sleep. Was by verre die beste moment om daai V6 ‘n sandvlakte te sien aanpak. Francois met sy Toyota is volgende en die knaap besluit om dieselfde roete as Heinrich te hardloop, maar ¾ deur kom die knaap tot stilstand. Nou +/- 3km terug het Vicky die drywer seat vir my gegee so hier sit ek nou in ‘n ander man se bakkie en ek sukkel nog om aan die petrol ding gewoond te raak. Ry vir die laaste 2 jaar ‘n dieselbakkie en die goed se ratte en krag werk maar net anders. Offer nogals politely en vra of Vicky nie dalk sy eie bakkie deur hierdie stukkie avontuur wil neem nie, maar hy reken elke sport het sy beserings en ek moet dit maar vat. Nou om vas te val is nie die probleem nie, dit is die houe wat jou ego vat wat die k*k is. Parma het my ego al ‘n paar keer gebreek as ons gaan 4×4 met sy bakkie en dit bly ‘n k*k feeling.

Druk die knaap se gat die veld in en kry my wiele so reguit as moontlik. Die ander het links verby gegaan waar Parma die eerste keer gestop het so ek wil net regs van hom verby gaan. Heinrich gee laaste raad en nou is dit maar sulke tyd. Al ry ek vandag hierdie fo*kken Toyota dat sy wiele afbliksem maar ons gaan hier deur, want die bliksems spot my klaar oor my ouderdom, gewig…ag hel noem iets en hulle spot my, so om vandag nog vas te val sal die cherrie op die koek wees.

Skop daai Toy in eerste en drop die clutch. Soos ons die sand tref trek ek hom tweede toe en ons begin bokspring, maar die krag is daar en ons voeter links en regs maar ons is nogsteeds aan die gang. Vicky trek die dak skoon skeef soos die bliksempie klou en ek sorg net dat die stuurwiel nie uit my hande geruk word nie. Soos ons aan die einde kom besef ek ons hardloop nogals hoë refs so as ons die harde grond gaan tref gaan ons fokkof soos ‘n rocket. Slaan die harde grond en bring die knaap darem tot stilstand in een stuk. Damn maar dit was lekker. Help gou om Francois uit die sand te kry en dan is ons weer aan die gang.

Die son voeter ons nou al in styl en mens kan nie kaalvoet buite loop nie. Die roete bly maar curveballs vir ons gooi en mens moet die heeltyd fokus wat jy doen. Die dag raak nou lank en 80km het nog nooit so lank gevat nie. Vicky neem later weer oor en gisteraand se witblitz maak nou nie mooi met ons nie. Die moegheid en rond rukkery begin sy merk wys.

Raak so gewoond aan die geruk en pluk dat ons nie besef ons is in ‘n droë rivier nie. Parma gee voet voor en Heinrich, Francois en Vic is kort op sy gat. Die bakkies bliksem links en regs en die manne moet net klou om die knape weg te hou van die klippe. Ou arma Madre, Ruan & Steve wat agter by ons gesit het klou vir alles wat hul werd is en die oomblik is onbeskryflik.

In die verte kan ons sien hoe Parma die rivier uitklim met die Isuzu. Skielik hoor ons Ruan roep hier van agter.

“Fokkit boys ons gaan die canopy deur verloor. Iemand gee hand hier asb”

“Hou vas Ruan ons kan nie nou stop nie. Ons is knie diep in die kak sjomma so hou net vas”, skreeu Vicky van voor.

“Bulle julle MOET HELP!!!”

Die volgende twee sekondes moet by verre die tweede beste oomblik naas Heinrich se vlieg oor die sand wees.

Uit Madre (Ruan se girl) se eie woorde

“Henry gee vinnig die kamera dit gaan ‘n befokte foto maak.”

Haar beter helfte veg om nie by die bakkie uit te bliksem nie terwyl hy die canopy deur probeer red en sy wil net die oomblik darem capture – PRICELESS!!!

Al die bakkies kom op ‘n stukkie harde grond tot stilstand en die laaste paar minute word oor en oor vertel. Die canopy deur word af geskroef en by die res van die gear gelaai. Dit is wat hierdie trip so lekker maak. Al die goed wat gebeur wat jy nie beplan het nie. Wie wil nou op n trip gaan waar alles 110% verloop. Iets moet k*k of verkeerd loop.

Paar warm biere sien hulle gat en ons is terug op die pad. 20 minute later en ons is weer in die sand, maar die keer maak net Parma dit uit en 3 van ons 4 bakkies val vas in die sand. Heinrich se ondervinding kom lekker te voorskyn en die knaap maak sommer groot naam op sy eerste Willeklong trip. Hy is ‘n man vir min woorde, maar meer hands-on kry jy nie sommer nie.

Kry al die bakkies uit en nou is dit die laaste stretch Rigtersberg toe.

UITEINDELIK by Rigtersberg aan gekom besluit Parma en Heinrich om vir ‘n lekker staanplek langs die rivier te gaan soek. By die tyd is die grond nie meer warm nie, dit is maar MOER warm dat jy nie eers meer plakkies kan dra nie want die sand brand jou as dit oor jou voete gaan.

Die res van ons wag en wag en wag en daar is geen tekens van die twee nie. Soos ek die duine om ons bestudeer sien ek hoe die girls wat saam met die twee bakkies was oor die een koppie pop en ek weet sommer daai twee wetters het nou weer gaan vasval.

“Bulle julle moet gaan help. Beide Parma en Heinrich lê vas en julle moet gaan help”

Fokkit nou is ons enigste 4×4 ook vas. Daar aangekom lê die Isuzu diep in die poeier sand. Heinrich lê paar meter agter hom vas. Ons stoei en bid en kry uiteindelik die Colt eerste uit. Heinrich draai die knaap om en nou moet ons hierdie Isuzu hier uitkry. Ons ruk en pluk en die knaap wil-wil net uitkom, maar ons het net nie daai bietjie ekstra nie. Klim met die graaf en klippe in maar niks wil roer nie. Gelukkig het ons dieselfde ouens wat ons by Potjiespram die oggend ontmoet het in die hande gekry en diè het kom help en uiteindelik is albei bakkies los en weer terug op die pad.

Kry ‘n lekker spot langs die rivier en almal besluit ‘n spanbad is nou ‘n moet. Vandag was lank, hard en warm en almal is dankbaar dat ons uiteindelik ons gatte kan rus. Met Madre se reputasie om seker een van die lekkerste potjiekos disse te maak kan ek nie meer wag om te eet nie. Die kaarte maak weer hul verskyning en aai Steve k*k maar altyd eerste as dit met die drinking games kom. Vanaand gaan daar nie tente opgeslaan word nie want die weer is darem net te lekker. Vanaand proe die brannas dubbel lekker want bliksem ons het dit verdien. Parma, Vicky & Steve is later kaalgat die rivier in en met ‘n handdoekie wat skaars om ‘n laerskool girltjie sal kan gaan wil al drie die wetters hulle gelyktydig afdroog. Scary scenes, maar ja elke sport het maar sy beserings….eish.

Sondagoggend 06h30 en ons is al op die pad. Moet vandag gedeelte van gister se pad doen en dan moet ons ‘n besluit neem. Daar is ‘n hek 25km ver dan is ons uit die reservaat en weer op n breë grond pad of ons moet die hele pad wat ons gister getravel het terugdoen en dit alleen is ‘n moerse taak. Nou of die hek oop is weet ons nie en as hy toe is gaan ons vandag die son met klippe afgooi.

Daar word besluit om ‘n kans te vat en vir die hek te skiet en met bietjie geluk kry ons wraggies die hek oop later die oggend en almal juig van opgewondenheid. Van hieraf is dit ‘n lekker grondpad deur Kuboes, Eksteensfontein en dan Fiddlers Creek waar ons die aand gaan slaap…of dit is wat die donderse kaart sê, maar anderkant Eksteensfontein voeter ons weer in ‘n 4 x 4 roete, maar gelukkig kom ons deur sonder enige hiccups.

Fiddlers Creek aangekom is dit weereens reguit rivier toe. Parma dreig nou al die hele trip dat hulle my nog onder hande gaan kry omrede ek en Marli verloof geraak het en vandag weet ek sommer hulle is lus vir my. Op Springbok het ek my gat gesien, maar die ouens het darem daarvan vergeet vir die res van die trip TOTDAT ons Fiddlers Creek getref het. Manne koop glase plofstof en ek weet ek gaan vanaand weer eerste planke toe.

Ontmoet ‘n paar knape van Citrusdal en aai die kuier raak net groter en rower….

Maak my oê oop en ek is op my matras en dit is Maandagoggend. Bliksem maar gisteraand was rof, wens ek kon dit net onthou het…whahahaha

Kamp word afgeslaan, bakkies word vir die laaste keer gepak en ons pak die pad terug Kaap toe.

Richtersveld is mooi op sy eie manier en min mense weet waar dit werklik is. Dit is een van daai plekke wat jou nie al sy juwele op een slag wys nie so jy moet gereeld teruggaan om verder te gaan verken.

Groot dankie aan Parma en Marina wat die hele trippie aanmekaar geslaan het en ook aan Vicky, Francois & Heinrich vir die gebruik van hulle bakkies. Bulle en girl-bulle dit was ‘n trip om te onthou en ons moet weer so maak.

Onthou om agter die ore te was….

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *