Blog

Namibia se roep

As jou beter helfte besluit om ’n molshoop êrens in Afrika (Kilimanjaro) te gaan klim saam met 2 ander vrinne en jou ouers oor hulle voete val om na jou kind te kyk terwyl ma weg is dan sal ’n trip Nam toe saam met ’n gatgabba mos net kookwater wees!

Donderdagaand 20h30 en ’n volgelaaide Trooper vat die pad Namibia toe.

Die wat Parma goed ken sal weet die knaap is effe gebreklik met ’n swaar regter voet so toe die son sy oggend strale begin uitgooi toe trek ons Helmeringhausen in vir ’n koffie en iets vir die maag by die enigste hotel op die dorp.

Jerry kanne word volgemaak en die volgende stop is Sossusvlei.

Het so net na middagete by Sossusvlei aangekom en met die dat ons nog Swakopmund toe moet skiet (oornag vir 2 aande) het ons nie veel tyd spandeer by die vlei nie. Sal definitief volgende keer ’n sonsopkoms daar wil wees.

By Swakopmund aangekom was ons gatte lekker lam en na ’n paar vinnige koue brannas en warm bord kos was ons ligte vroeg uit. Volgende dag moes ons trok (die Trooper) skoon kom want met die dat die aircon sy gat gesien het, het ons besluit om met oop vensters te ry so daar het kubieke sand op die arme knaap gewag wat dit moes skoonmaak….eish.

Paar koue biere is genuttig by een van die bekende Duitse restaurante waarna ons na die lang verwagte Duitse fees gegaan het.

Hier kan ek hoofstukke, kortverhale, gediggies….skryf, maar kom ons los dit daar, want geen normale mens kan bier drink soos die Duitsers nie…vir my gevoel ek drink vir my lewe…sjoef.

Van Swakopmund het ons noord geskiet teen die skedel kus op tot net voor Torra Baai waar ons regs gedraai het Palmwag toe.

By Palmwag draai ons links Sesfontein toe. Kwowarib Lodge/Campsite (+/- 20km voor Sesfontein) was ons tuiste vir 1 aand en magtig daar is niks wat Damaraland stof in die keel so vinnig skoonmaak soos ’n yskoue brannas nie.

Volgende oggend is ons vroeg op die pad want ons wou soveel moontlik van die dag by Epupa watervalle spandeer. Die pad tussen Opuwo en Epupa is maar ’n riller en jy moet fokus, want jy kan maklik jou gat met een van die driffies sien. Die einste pad het ook ons eerste (van 2) spaarwiele geneem….

Epupa (aan die grens van Angola) was ’n WOW faktor. Hier in die middel van die Kaokoland se stof en bosse kry jy ’n oase omsingel met groot palmbome en natuurlik die magtige Kunene wat beide die Ruacana (hoër die rivier op) & Epupa watervalle voed.

Omarunga Lodge was ons tuiste vir een aand (kon maklik hier ’n week gebly het) en by ons aankoms het ons gasheer ons bewus gemaak dat ’n oom groot krokodil (+/-3m) ongeveer 50m van ons kampeerplek op die klippe lê en bak.

Res van die dag was om die swembad/bar en natuurlik by die bekende watervalle spandeer. Ek moet sê die watervalle is ’n belewenis en mens kan jou net verbeel hoe dit moet lyk as dit invloed is.

Volgende oggend was dit weer op die pad die keer na Kunene River Lodge, wat ook soos Omarunga op die oewers van die Kunene is. Die groot verskil is dat Nam Power by Kunene River Lodge beskikbaar is en Omarunga nog met kragopwekkers werk. Glo sprake hul sal Nam Power in die volgende 2 jaar “dalk” kry….

Die Lodge is bedek met immergroen gras en plantegroei en dit is moeilik om te dink dat krag so groot verskil kan maak as jy die twee lodges vergelyk.

Ons kon nog vir dae so al langs die rivier op toer, maar ons moet plaas se kant toe staan, want daar moet bokke gesoek gaan word en meer belangrik vleis moet bewerk word.

Van Kunene River Lodge het ons al langs die rivier opgegaan tot by Ruacana waar ons regs gedraai het op die wit grondpad Kamanjab toe.

The Glen (Paul se skoonouers se plaas) is tussen Kamanjab en Outjo geleë naby Otjikondo. Met die intrap by die plaas het oom Johan (geharde oom en kan ’n storie soos geen ander vertel nie) kom groet en gesê ons moet sommer gou gaan inskiet met die 30.06 want môreoggend gaan ons vroeg veld toe.

So gemaak en so gedoen, en die volgende oggend is ons vroeg op die 1983 Cruiser veld toe. Met oom Johan se woorde (“Kêrels dit is volmaan so die bokke gaan wei saans en nie bedags nie”) nog vars in my geheue het ons Namibia jag avontuurtjie begin.

Paul se oë is wragtig skerp en hy het die eerste Gemsbok laat skemer tussen die takke gesien. Met my super bioniese oë kon ek nie ’n moer daai knaap in die bosse sien nie en Paul het die eerste skoot geneem en daarmee ons 1st bok laat val.

Ok mnr Jonker nou is die pressure op jou….SJOEF!

Volgende dag was ons weer vroeg in die veld en soos die vorige dag het #2 geval ook teen laat skemer, gelukkig die keer deur my. Met twee bokke wat alreeds in die freezer hang het oom Johan aangedring ons gaan kry ’n 3de enetjie ook en soos die lot dit wil he, het ons #3 op dag 3 gekry via Paul se vinnige steady hand.

Tannie Jeanetta het alreeds met die vleis begin en kort voor lank het ek en Paul ons orders gekry wat en hoe ons moet maak.

Die laaste paar dae op die plaas was tussen vleis werk en windpomp regmaak saam met oom Johan spandeer. Saans was daar geëet soos konings en na oom Johann se stories geluister. Ek sal ’n road trip maklik saam met die oom aanpak, want sy details (plek name, naam + van van mense, datums….) van sy stories is ongelooflik. Tannie Jeanetta op die ander kant is ’n skoolhoof op Otjikondo en terselfde tyd het sy ook haar eie bees boerdery. Marina (Paul se vrou en hul jongste dogter) uitgeknip.

Ons moes huis toe begin staan want ons wou graag ons beter helftes op die lughawe verras met hul terugkeer van hul Afrika avontuurtjie. Woensdagmiddag 11h30 het ’n nog voller Trooper The Glen verlaat en Donderdagoggend so net na 6am was ons weer terug op Daslvlei (waar ons begin het 2 weke gelede).

5,325km, R10,500 se petrol, 3 x Gemsbokke, 2 bande….’n onvergeetlike trip en een vir die boeke.

Wil graag afsluit deur dankie te sê aan oom Johan en tannie Jeanetta vir hul ongelooflike gasvryheid en die jag geleentheid. Die verhaal sal nog by menigte kampvure herhaal word….hahaha. Groete vir oom Reiner, tannie Gilly, Paul en Sara asb.!

Kliek hier vir meer foto’s.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *