Blog

Toer Beaufort West toe (deel 2)

By Drie Susters breek ons links, weg van die N1, op die N12 Kimberley toe. +/- 8km later kom Jakalaas se Toyota tot stilstand voor oom Robert se plaashek (Brakfontain). Van hier is dit nog ‘n jeep track (party plekke is daar nie eers ‘n pad nie) vir so 10km voor ons tot stilstand kom.

Na ‘n vinnige recce word besluit ‘n beter plek gaan ons nie kry teen die wind nie, want met wind, vuur en droë gras wil mens nie speel nie. As daai 3 koppe by mekaar sit, gaan nie een van ons bakkies vinnig genoeg wees om uit hierdie koppies te kom nie. En as jy nog wyn ook in jou gat het, dan kan dinge dalk in die begin snaaks wees, maar daarna kan dit lelik skeef draai.

Jakalaas en Jerry het die vleis en wors gereël; toe hy daai bakkieklap oopmaak en ek daai vier sakke sien weet ek ons gaan nie eers ‘n duik in daai worsvoorraad maak nie. Ons kan ‘n klein dorpie met wors voorsien vir ‘n week.

Tente skiet op terwyl Skaap ‘n vuur aan die gang kry. Die eerste goue seun word uitgehaal en saligheid slaan ons tussen die oë. Hier is nie reëls of beplanning nie. As jy honger is braai jy wors, as jy wil drink gooi jy vir jouself, doen net wat jy wil, maar maak net seker jy is Maandagoggend hier as ons die bakkies start.

Van die manne luister die toets teen Wallis op die bakkie radio’s en toe die game klaar is, word daar gou droë hout gesoek vir die aand se kuier.

Om ‘n onverklaarbare rede is die weer nie meer so erg koud nie en Jakalaas en Jerry kan maar net kopskud vir hierdie verskynsel, want net ‘n week gelede was dit glo leeukoud in daai geweste.

Later word die spannetjie groter met Ian en Louwtjie wat van Murraysburg deurgeskiet het. Skaap is weer op sy Crackling (wyn wat so goedkoop is dat geen mens dit wil drink nie), so dit is nie lank voor die kitaar uitkom nie.

Hoe later hoe rowwer. Hoe rowwer hoe minder word daar gemik as ‘n dop gegooi word. Hoe minder daar gemik word, hoe groter is die kans dat jou vrinne jou vanaand oor ‘n klip gestrek gaan kry. Net toe dinge lekker volstoom loop, dop daar sommer nog ‘n handvol mense hier uit die bosse uit.

Oom Robert (eienaar van die plaas), sy vrou, sy seun Dale en diè se meisie wou graag kom kyk wie so lekker hier in die middel van êrens en nêrens kom kuier het. Oom Robert is ‘n legende en my maat, as die Tante nie saam was nie sou hy net daar saam met ons in die veld gebly het. Oom Robert het later gereken ons is meer as welkom om sommer een van die skape op die lande te slag as ons vleis opraak. “Bliksem oom, het oom dan nie die sakke wors gesien nie??” wou ek vra, maar besef toe dit kan nogals k*ksnaaks wees om van hierdie knape agter n vrag skaap in die lande te sien hol. Toe ons besef ons sal moet ophou kuier het ons net daar besluit dit is n onvolwasse besluit en die volgende dop is weer gegooi.

“O hel boys die mix is op!!! Wat NOUUUUUUUUU?”

Ek dog ek val op my knieë en begin huil soos ‘n laerskoolmeisie, maar met die wete dat ¾ van hierdie wetters my rib gaan afskop het ek maar die gebaar gelos.

Skaap is so op volstoom dat toe hy besluit dit is nou tyd om te gaan slaap is daar vir hom besluit dat dit dalk n kinderagtige idee sal wees. En so is hy weer aan die speel…

Toe ek die volgende oggend wakker word lyk dit…mens hoe verduidelik ek nou hierdie gedeelte vir jou… wel dinge lyk sleg. Lyke is versprei om die vuur. Parma hou Sieb so styf vas dat ek dog die knape begin nou ‘n diepe liefde vir mekaar ontwikkel. Ek wil nou nie hulle geheim verklap nie, so toe stap ek maar blind-oog verby.

Vic is soos n meerkat en toe hy my hoor toe is hy op. Ek weet sommer hy het laaste gaan slaap en soos altyd is hy kort op my hakke wakker. Stadig maar seker word daar ‘n kop gelig. Koffie word aanmekaar geslaan voor daar geselsies orals uitskiet oor gisteraand se kuier.

Recce word gedoen op ons stock en met GEEN mix en min ys word daar besluit dit is ‘n MOET dat een bakkie terug dorp toe skiet vir hierdie kosbare goedjies. Robbie en Wessel moes weer terug JHB toe skiet so hulle is sommer saam met my en Skaap terug Beaufort West toe.

Na so 3 ure is ons terug in die veld en skielik is daar vrolikheidheid die dat die droë kele uiteindelik vog kan kry.

‘n Kuier in die veld bly maar die beste. Daar is niemand wat jou pla nie, as iemand jou pla voeter jy hom met ‘n graaf en begrawe hom sommer net daar – hopelik sal niemand hom mis op die bakkies nie. Die stilte is sielskos en al die daaglikse probleme is iets van die verlede.

Later die middag klim so paar van ons teen een van die koppies uit en damn het ons nie sleg geraak nie. Ek dog my longe klim by my keel uit soos hulle brand.

Die aand se kuier het sommer vroegmiddag begin en aai, was dit nie weer ‘n kuier tot die dood toe nie.

….en nog meer ….

Maandagoggend is almal vroeg uit die vere en daar word gepak vir die dood, want ons moet nog die langpad terug Kaap toe aanpak.

Terug op Beaufort West word daar afskeid geneem van Jakalaas, Elsa en Jerry. Net anderkant die dorp breek ons weg van die N1 en vat die pad Oudtshoorn toe via Meiringspoort. Die R62 is darem by verre ‘n beter pad as die N1.

Die weer was weereens in ons guns en nêrens het ons reën gekry nie, al het dit gelyk of ons papnat gaan reën net anderkant Oudtshoorn.

18h30 Maandag laatmiddag is die 3 bakkies weer terug by Vic en Skaap op die plaas. Dit was ‘n legendariese trip en een vir die boeke.

Bulle, julle moet rus en klaar rus want ons moet volgende maand, Julie, Calitzdorp toe sleep. Die manne wag daar vir ons.

Laat dit juig en hou daai bakkies op al vier wiele!

Lees gerus ook:

– <a href="http://www.henry.co.za/articles.asp?ART_ID=629&Step=2" class="link10">Beaufort West se watse koue deel 1</a><br>

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *