Blog

Kgalagadi & Noord Kaap Toer

Kgalagadi & Noord Kaap Toer

Hierdie was een van daai vakansies wat “long overdue” was. Met Lian wat nog net te klein was vir ʼn lang toer verlede jaar was beide ek en Marli lus om hierdie jaar die seuns op ʼn onvergeetlike avontuur te neem.

Terselfde tyd was dit NB dat Marli buite selfoon sein kom, want anders gaan sy nie 100% kan onspan nie en sal altyd doenig wees met werk aksies. Van my kant was dit eenvoudig – hoe meer remote & eenvoudig die bestemming was hoe beter.

Sondagoggend, 24 Julie, en ʼn swaar gepakte Cruiser verlaat ʼn nat en koue Wellington op pad Moordenaarskaroo toe.

Brinksfontein

Ons skop ons familie avontuur af by Brinksfontein wat tussen Sutherland & Laingsburg geleë is. Na ʼn vinnige stop by die bekende stasie op Matjiesfontein is ons gou die Velatekloof Pas uit waar ons dan regs draai op die grond pad Roggeveld/Komsberg toe.

Die Boland se koue/nat weer het ons nie verlaat nie en die reën wolke bou bo ons soos ons deur die tonne plaashekke ry. Laatmiddag en ons kom uiteindelik by die gastehuis aan. Daar is geen teken van lewe of mens nie. Marli stel voor sy gaan voel of die deur oop is. My eerste reaksie: wie sal hul gastehuis oop los in vandag se omstandighede. My woorde was nog nie eers koud nie en daar stoot Marli die deur oop – ek was verkeerd lyk dit my.

Terwyl ons so deur die gebou beweeg hoor ons ʼn warm en vriendelike stem: “Welkom Welkom!”. Daar staan ons gasvrou Rae Myburgh met ʼn tuisgemaakte brood, bottel Port asook ʼn tuisgemaakte botteltjie jam. Marli moes skielik net keer anders sou ek en die deuns onmiddellik daai brood getakel het voor ons nog ordentlik gegroet het.

Marli het Rae het saam gewerk by Star South, so die twee kon nie ophou praat toe hul mekaar sien nie. ʼn Ongelooflike dame en mens kan sien aan die detail van haar gastehuis dat sy regtig baie moeite doen vir haar gaste.

Kom ek skep die atmosfeer. Met GEEN krag nie is daar paraffien lanterns, battery liggies, gas stoof en yskas en om alles te kroon is daar ʼn kaggel/braai in die middel van die gebou. Na ʼn vinnige verkenning van een van die koppies saam met die seuns gaan kyk ons hoe sak die son oor die Moordenaarskaroo. Skaars het ons terug gekom by die gastehuis toe die wolke begin oop maak het bo ons. Vuur is aangesteek, glasies Port word in gegooi en Marli bederf ons met tuisgemaakte jam broodjies.

Volgende oggend, as dit nog nie genoeg was van ons gasvrou nie, nooi hul ons uit vir middagete by hul huis wat so 5km verder die pad af is. Daar gekom en dit lyk of ons vir ʼn Kersfeesete gaan aansit. Daar word geëet en wyn gedrink en stories vertel tot laat die middag. Kinders het dit terdeë geniet want hul kon vir ʼn paar uur TV darem kyk haha.

Dinsdagoggend, 26 Julie, en ons is sommer vroeg op die pad. Die keer is ons bestemming een van my gunsteling plekke in ons mooi land, Verneukpan. Ons vat die pad (R354) via Sutherland, Middelpos, Calvinia tot ons by Brandvlei kom. Van hier draai ons regs op die Swartklip grondpad tot ons uiteindelik by die plaashek kom.

Verneukpan

Blad word geskud met een van die voormanne terwyl die wind semi onsmaaklik die los takkies om ons weg waai. Man kyk my snaaks aan toe ek verduidelik dat ons net een voertuig is, maar stel my gerus dat die paar wolke in die lug nie reën is nie. Hulle ken mos die wêreld so as hy se dit is nie reën nie dan wat het ons om oor te worry.

10km nog verder en ons is by die laaste hek (wat gesluit word) voor ons op die pan is. Die kinders staar verstom by die vensters uit soos ons die pan op ry. Dit is doodste stilte in die voertuig en almal sit met hul eie gedagtes. Hierdie is ek en Marli se 3de keer by die pan en ek wou dit so graag vir ons seuns wys dat hul dit kan beleef.

Uiteindelik in die middel van die pan kry ons die tent gou staande met die Crusier wat as wind skerm moet dien teen die effense onsmaaklike wind. Marli het die vorige aand reeds kos gemaak wat nou net warm gemaak moet word.

Kinders hardloop die pan plat en dit vat nie lank toe hul besef het toe ek genoem het hier is NIKS nie…hahah.

ʼn Paar wolke het hul verskyning gemaak laat middag, maar niks om oor bekommerd te wees nie. Toe die son sy laaste strale oor die pan gegooi het, het die wind ysig koud begin raak en dit was ons teken om rustig te begin raak in die tent.

2am die oggend en ek skrik wakker met reën en wind wat teen ons tent slaan. Skielik besef ek dat ons avontuurtjie nou na ʼn ander vlak geskuif het, want jy wil nie in die middel van ʼn pan wees as dit reën nie. Niks wat ons nou aan die situasie kan doen nie en al waarvoor ons nou kan hoop is dat die reën so gou moontlik stop.

7am zip ek ons tent oop en kry die skok van my lewe. Dit lyk of ons in die middel van ʼn dam tent op geslaan het, met net hier en daar tekens van grond. Kinders dink ons het dit beplan en love elke oomblik daarvan. Ek en Marli besef die ernstigheid van die saak so nou moet daar kop gehou word.

Nadat die kinders klaar ontbyt geëet het, het ons besluit dat een buite die hardloop werk van die Cruiser na die tent doen en alles in pak. As alles (en die kinders) in is sal die 2de een (teen die tyd het ek al papnat gereën) help dat ons die tent opslaan en op die Cruiser se dakrak kry. Vir ʼn paar minute het die reën gaan lê en ons gebruik die geleentheid om so gou moontlik die tent op te slaan. Met tekkies enkel diep in die klei en ʼn mis reën wat net nie uit ons gesigte wil bly nie kry ons alles op en in. Voor ek in klim, maar ek seker die 4×4 hubs is gedraai.

Verneukpan

Teen die tyd is my hande bloed rooi van die koue en sukkel my gat af om die sleutel te draai. Met die dat ons in die middel van ʼn semi dam is is ons vorige dag se spore van die hek iets van die verlede. Ek zoom so diep moontlik in op my GPS om die track log te volg.

100m voor die hek (wat toe en gesluit is) gaan stop ek op ʼn gedeelte wat nie onder water is nie. Hier gaan ek momentum nodig hê, want ek is nie lus om vas te sit voor die hek nie. Uiteindelik gaan ons gly gly deur die hek terwyl die kinders agter in die trok juig vir die Cruiser.

Die volgende 20km was maar touch-and-go en as ons nie langs die pad deur die bosse moet gaan nie, moet ons in die pad ry wat nou al ʼn rivier was. Die voertuig se windscreen wipers kan al lankal nie byhou nie en Marli moet help kyk dat ek nie in iets vasry nie.

Paar uur later en ons kom uiteindelik weer by die R27 uit so paar km voor Kenhardt. Daar is groot verligting (altans tussen ek en Marli) in die trok dat ons dit daaruit gemaak het en weer op ʼn teer pad is. Van hier was dit oop ketels tot by ons 3de bestemming, De Oude Stoor, in Kakamas.

Molopo Kalahari Lodge

De Oude Stoor is op ʼn werkende plaas en die volgende 2 dae het ons genoeg tyd gehad om alles skoon en droog te kry van Verneukpan se avontuurtjie asook om die bekende Augrabies Watervalle te gaan besoek wat ʼn groot WOW vir beide Marli en die kinders was.

Augrabies Watervalle

Vrydag, 29 Julie, en dit was weer tyd om verder Noord te stoot tot by Molopo Khalahari Lodge wat 70km voor die KTP (Kgalagadi Transfrontier Park) was. Lieflike lodge en onmiddellik besef mens jy is in die Kalahari met die rooi duine wat orals om jou is.

Volgende oggend was ons vroeg deur Twee Rivieren se hek en daar is baie opwinding in die trok. Nou begin die regte vakansie EERS. 20km verder draai ons regs by Rooiputs wat ons 1st van 3 kampe in die KTP gaan wees. Die verskil tussen die Rooiputs (wat in die Botswana kant is) kamp en die van Mata-Mata & Nossob is dat hierdie kamp nie omhein is nie so jy kamp letterlik in die bos tussen die wild.

Met die dat die kinders heeltyd wil rond hardloop moes ek en Marli bont staan die volgende twee dae om hulle so naby moontlik aan die voertuig / tent te hou. Wild was volop en die wêreld onbeskryflik mooi. Dag 2 op pad terug van een van ons wildkyk uitstappies loop ʼn leeu wyfie reg voor ons oor die pad. Die kinders ontplof in die kar van opwinding en ek en Marli moet ook hard veg om ons opwinding te beheer. Dit is hoekom ons hier is en wat ʼn belewenis om hierdie diere in hul natuurlike habitat te sien.

Elke aand skrik jy jou yskoud as die leeus brul. Dit voel letterlik of die knaap hier reg agter jou tent sy longe skoon maak. Die een oggend wys een van die park manne die spore van ʼn maanhaar so 10m van ons tent. Skielik sink die realiteit in dat ons nou in maanhaar wêreld kamp en dat ons ekstra versigtig moet wees met die kinders.

Rooiputs @ Kgalagadi Transfrontier Park

Maandag, 1 Augustus, en die Cruiser is weer aan die beweeg die keer na Mata-Mata waar ons 3 aande sou kamp. Die groot verskil tussen Mata-Mata en Rooiputs is dat dit ʼn omheinde kamp is so die kinders kon meer vrylik speel. Elke dag het ons 3 wild uitrye (soggens, middae en laat middae voor die hek sluit) probeer in pas. Oorspronklik het ek gedink dit sou te veel gewees het vir die kinders, maar as hul sien ek vat die Cruiser sleutels dan is hulle sommer eerste in die trok.

Die natuurlewe rondom Mata-Mata was ongelooflik en ons was bevoorreg om baie wild te sien. Van al drie die groot kampe in KTP moet ek se Mata-Mata was die mooiste vir ons. Dit is wel die kleinste en ook seker een van die redes hoekom ons dit so geniet het.

Die reis moes voort gaan. Donderdag laatmiddag, 4 Augustus, suiker ons die bekende Nossob kamp in. Die duine pad van Mata-Mata & Nossob het nie baie wild opwinding opgelewer nie so die kinders is bietjie gatvol van rond skud en wil nou net buite speel. Kry van die gaste wat ons vroeër by Mata-Mata ontmoet het en hul laat weet net die vorige aand het +/- 5 leeus die een aand teen die draad van die kamp kom lê.

Nossob is bekend vir sy leeu aktiwiteite en dit het DEFINITIEF nie teleurgestel nie. Was bevoorreg om leeus al 3 dae te gesien het. Die hele avontuur om die spore te volg en dan hul te kry was onvergeetlik vir die kinders. Elke rit het soos ʼn mini avontuur uitgedraai.

Die Kgalagadi is definitief ‘n merkwaardige plek én iets wat mens moet beleef. Die sonsondergange was definitief die hoogtepunt vir my. Die son se strale wat rooi glooi as dit oor die rooi duine sak terwyl die vuur knetter in die sand. En hoe kan mens dit ooit beskryf as jy die leeus hoor brul in die aande.

Mata-Mata @ Kgalagadi Transfrontier Park

Maar die Kgalagadi het nog een verrassing vir ons beplan. Met ons laaste dag op pad Twee Rivieren toe waar ons die KTP sou verlaat sien ons voertuie ver voor ons stop. Soos ek nader ry sien ons so wraggies ʼn Cheetah in die pad na ons toe loop. Sy kom tot 15m voor die Cruiser en gaan sit, maar lyk angstig. Marli merk op dat 4 Springbokke links van ons in die veld lê.

Sy het net betyds haar kamera aan gesit en die Cheetah spring weg. Ons kan nie glo wat voor ons afspeel nie – ʼn live kill! Die kinders borrel oor van opwinding dat die Cheetah gewen het en alhoewel ek semi verbaas was dat hul nie vir die arme bokkie gejuig het nie is dit nie iets wat mens sommer aldags sien nie.

Die tog huis toe het begin. Met die dat ons +/- 450 km ʼn dag kan ry met die kinders voordat almal mal sal raak het ons weer by Molopo Lodge oornag asook ʼn aand by Calvinia Hotel.

Dinsdag, 9 Augustus, en ons is veilig terug by die huis na ʼn ongelooflike avontuur saam met die familie. Dankbaar dat ek dit saam met my familie kon beleef het.

Waar gaan ons volgende?

Kliek hier vir meer foto’s.

4 Comments

  1. Gideon

    Klink na ‘n fantastiese trip saam met die familie. Toer self graag en kgalagadi is een van my favourites. Die pan moet ‘n belewenis wees. Altyd lekker om ander mense se stories te hoor.

    1. Henry Jonker

      Dankie Gideon.

      As jy nog nie by Verneukpan was nie, moet jy dit op jou lysie sit. Probeer maar die winter verby want die wind en reen is ‘n avontuur op sy eie 🙂

  2. Vic

    Onvergeetlike memories wat julle gemaak het. DIe laaities sal dit vir altyd onthou. Die Kalahari is nou maar een van daai plekke wat jy n punt van moet maak om ten minste een keer in jou lewe te gaan verken. As jou tone eers deur sy sand geploeg het, stof jy dit bitter moeilik af…

    1. Henry Jonker

      Vic ek stem 100% saam. Daar is min goed wat die siel voed soos daai rooi duine en sons ondergange.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *