Blog

Kamp by Baliesgat

Kamp by Baliesgat

Soos met ons Leeuwenboschfontein kamp einde verlede maand het dit hierdie spannetjie (Jonker, Van Tonder, Laas & Swart) net so bietjie meer as ʼn jaar geneem om weer die kamp ding te doen.

Dus toe Danie met die voorstel kom dat ons weer ʼn reünie moet hou het almal begin om moontlike bestemmings in die pot te gooi. Dit was tyd dat ons ʼn nuwe plek moet gaan verken. Met die dat niemand al by Baliesgat was nie was die besluit sommer vir ons gemaak.

Kamp by Baliesgat

Danie-hulle het besluit ʼn naweek is te kort vir so trippie en het al die Donderdagaand in die pad geval. ʼn Afgeleë jeeptrack in die begin van die Droelandskloof Pas gevind en tent op geslaan op ʼn nabye sand duin.

Vrydaglaatmiddag suiker ons verby Op Die Berg op die R303. 72km verder draai ons regs by die Du Toit Tandfontein Bordjie. Van hier kronkel die pad die vallei af tot jy by die kampterrein kom.

Die Van Tonder’s & Swart-families was reeds lekker gesellig met die vuur wat sommer mooi geloop het. Paul en Marina-hulle het so net na sonsondergang aangesluit.

Met ʼn vol spannetjie teenwoordig het die fees verrigtinge om die vuur begin. Niks so lekker as om ʼn vuur te kuier en van die roosters te eet nie. Die jongspan het weer verenig en het die donkerte in verdwyn en net so af en toe verskyn om iets te kry om te eet voor hul weer die vlaktes in gehardloop het.

Kamp by Baliesgat

Saterdaglaatoggend en die jongspan besluit dit is tyd om die stokke in die water te kry. ʼn Single track word vir so 500m gevolg tot waar ons 2 water poele raak loop. Danie het ietsie lewendig uit die water getrek, maar weet nie wie was meer verbaas nie – Danie of die vis nie. Toe die visvang opgewondenheid verby was word daar besluit om die lywe maar liewers nat te maak.

Terug by die tente en die vuur loop weer sterk. Roosters vleis verskyn en verdwyn op die vuur. Die sonnetjie sak hard op ons neer, maar gelukkig is daar ʼn ligte briesie in die lig.

Laat middag en Danie staan nader om te begin met die pot. Min dinge is so lekker soos ʼn pot ete gedurende ʼn kamp naweek nie. ʼn Kuier vuur kry lewe in ʼn nabye drom en die lewe se klein uitdagings is skielik iets van die verlede. Lee glase word vol gemaak as die kuiertjie deur die nag trek.

Sondag laat oggend word daar rustig kamp op geslaan. Ek en Paul wil graag die Droelandskloof Pas terug kry wat Danie-hulle die Vrydag gery het. Danie-hulle besluit dat hul nog so ietsie op die kole gaan gooi voor hul in die pad val. Blad word geskud en ons en die Laas’e val in die pad.

So paar km na Op Die Berg draai ons links en volg die pad tot waar die GPS se die pas begin. Met die dat ons die pas van Wes na Oos ry beteken dit ons ry die vallei af tot jy by die R355 kom. By die T-aansluiting draai ons regs tot jy die teerpad kry reguit Ceres toe.

Kamp by Baliesgat

Die ompad was definitief die moeite werd. Definitief een van daai “roads less travelled” en ook nie my laaste keer nie.

Dankie vir ʼn puik naweek julle. Volgende jaar maak ons weer so.

Kliek hier vir meer foto’s

1 Comment

  1. Kamp by Sanddrif | Henry Jonker Online

    […] lekker “mal” groep te kamp elke November. Lees gerus die vorige jare se artikels hier: 2015, 2016 en een vroeer die […]

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *