Blog

Kamp by Die Mond & Cederberg Oasis

Kamp by Die Mond & Cederberg Oasis

Dit is soms moeilik om vir iemand te verduidelik hoe mooi ʼn verlate & dorre landskap lyk. Dit is heel verstaanbaar dat die meerderheid mense neig na mooi natuurskoon gebiede, maar vir een of ander rede kry ek altyd aanklank na plekke waar die niks knie hoogte groei.

Een so gebied, bietjie meer as ʼn uur en ʼn half se ry uit Wellington, is die Ceres Karoo distrik. Nie ʼn gebied vir almal nie, en baie sal wonder wat de hel mens daar gaan maak.

Die gevreesde R355 wat alombekend is vir die “bande-vreter” pad is een lang, eensame pad wat net nie wil ophou nie. As ek reg onthou spog dit ook met die titel as die “Langste Grondpad” in Suid Afrika. Die Tankwa Padstal is altyd ʼn lafenis waar reisigers en die locals die stof uit die kele kan was met ʼn koue bier of vuil Coke voor daar verder gereis word.

Vrydagaand toe ons daar verby is was die Padstal ongelukkig reeds toe en ons het maar verder gestoot na Die Mond waar ons die 1st aand sou kamp.

Die Mond se afdraai is +/- 50km van die Padstal en jy sal die groot trekker band op jou linkerkant kry. Van hier volg jy die plaaspad deur ʼn paar hekke tot jy Die Mond se groot ingang kry.

Ruan, Christo & Ewan was reeds besig om kamp op te slaan toe ons daar aankom. Paul, Marina & Munnik het eers ʼn uur of wat na ons daar op gedaag en teen daai tyd het die vuur en geselsies al lekker sterk geloop. Vic en Stephanie sou eers by ons aansluit die Saterdagaand by Cederberg Oasis.

Saterdagoggend en ons word gegroet met een van die mooiste sonsopkoms oor die rivier aan die voet van ons kamp. Koffie & pap (kinders) word geniet langs die rivier voor daar kamp opgeslaan word en weer in die pad geval word.

Kamp by Die Mond in die Tankwa Karoo

By die 2de hek op die bultjie draai ons links en volg die kronkelde klip pad, wat parallel met die R355 hardloop, tot by Elandsvlei.

By Elandsvlei draai ons regs en volg die pad tot teenaan die R355. By die T-aansluiting gekom word die bande na gegaan om seker te maak daar is nie enige “slow leaks” nie.

Van hier ry ons Noord vir so +/- 40km tot ons links draai op die pad wat na die Biedouwvallei toe lei. 10km verder kry ons ʼn pan langs die pad en besluit dit is die regte plek om die kele bietjie nat te maak. Kinders het die pan se vlaktes terdeë geniet, maar meer die ouers want maak nie saak in watse rigting hulle gehardloop het nie kon jy hulle van ver af sien.

Tankwa Karoo

Ons het nog ʼn hele paar km oor vir die dag gehad en was na so uur weer terug op die pad. By die vurk draai ons regs en volg die Soutpanspan toe by R364 waar ons links draai Clanwilliam se kant toe. By die Wuppertal/Biedouwvallei bord trek ons weer af en geniet middagete langs die pad.

Na middagete gaan ons met die HoekSeBerg pas af en volg die kronkelende Kouberg pas af tot by Wuppertal.

Van Wuppertal gaan ons oor die rivier en dan met die 4×4 roete die berg uit na Eselbank. Die seuns het die gedeelte die meeste geniet as gevolg van al die rondskud in die Cruiser.

Wuppertal na Eselbank

Soos ons afsak na Matjiesrivier van Eselbank sien ons ʼn voertuig voor ons die vallei af kronkel. Paul maak ʼn grap en se hy dink dit is ou Vic & Stephanie wat voor ons ry. Ons konvooi ry ʼn bietjie vinniger en vang op met die voertuig en soos luck dit wou hê is dit wraggies Vic & Stephanie. Blad word geskud en drukkies word uit gedeel.

Nou was ons ʼn voltallige span. Ons konvooi nou groter met +1 (105 Series Land Cruiser) is verder die vallei af tot by Cederberg Oasis. Nadat al die tente staande gekom het, het van ons bar toe geskuif waar die Bokke vs Argentinië toets uit gesaai was.

Kamp by Cederberg Oasis

Na die 1st helfte word daar besluit ʼn kuier om die vuur is meer opwindend as om verder na hierdie sukkel spul te kyk.

Kan nie onthou wanneer laas ons almal saam om ʼn vuur gesit en kuier het nie. Dit gesê voel dit soos gister wat ons saam agter op oop bakkies van feeste na landbou skoue getoer het.

Kamp by Cederberg Oasis

Die aand se kuier was lank en hard, soos verwag was, maar behalwe vir die feit dat ek die vroeër oggend ure ʼn hoes aanval gekry het was dit ʼn lieflike kuier uit die boonste rakke.

Sondagoggend en almal is doenig met kamp op slaan. Vic en Stephanie se avontuur is nog nie klaar nie en hulle is op pad Lambertsbaai se rigting toe en daarna weer Noord na die SA/Namibia grens.

Blad word geskud en 3 voertuie draai links op pad na Op-Die-Berg terwyl die 4de een regs draai Clanwilliam se kant toe.

Kamp by Cederberg Oasis

Die Ceres Karoo is regtig ʼn merkwaardige plek. Volgende is die Posroete – van Wuppertal oor die berg tot by Elandsvlei.

Kliek hier vir paar foto’s van die naweek.

4 Comments

  1. Gerrit

    Ek is bly dat die groep hul kuier by ons (Cederberg Oasis ) geniet het. hoop dat daar ander groepe sal wees.
    Groete
    Gerrit

    1. Henry

      Altyd lekker om daar by julle te kuier Gerrit. Definitief nie die laaste keer gewees nie.

  2. Vic

    Great om almal weer om n vuur te kry en n paar koues saam te geniet. Wat n voorreg…

    Lekker artikel Henry. Sal plan moet maak om by Die Mond uit te kom.

    1. Henry Jonker

      Altyd lekker om saam met julle te kuier ou maat. Sien om julle blog te blog te volg soos julle oor Africa/AUS travel. Gaan groot

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *