Blog

Porterville skou

So ‘n rukkie gelede het Flippie ‘n artikel gepost genaamd “Jy breek my brander” en die knaap het die “ups” en “downs” van localism verduidelik. Die naweek by die Porterville Skou het ek net die ups van localism beleef en gedog laat ek dit so bietjie met julle deel.

Kom ons begin eers by die begin. Porterville Skou is ‘n tipiese landbou skou en as jy ‘n poppie en ‘n poppie se liefie is dan gaan jy wraggies soos ‘n geel puisie hier uit steek. Die skou is ‘n geleentheid vir die gemeenskap se mense om bietjie samesyn te vier en om met die groot ysters (landbou gereedskap, stropers, perde en ou karre) af te wys.

Vrydagaand kom ons so net na 21h30 by die skouterrein aan en mens kan met my toor so lus is ek vir samesyn. Dit is soos ou Kersaand en niks en niemand gaan jou keer om jou geskenk oop te maak nie. Was nog nie eers die deur in nie en die eerste 4 knape keer ons voor.

“Vertel so bietjie van hierdie Willeklong boeta.”

Die bar was net so 3m ver en ek kan die eerste koue een proe en voel, en hey, as die manne so mooi vra dan moet daar mos gehoor gee. Vinnig het die manne van die konsep gehou en onmiddelik moes so ‘n goeie idee gevier word. Van proe en voel van ‘n verte af het dinge eweskielik in ‘n vinniger tempo oor geskakel. Andries & Willem het dinge nie daar laat staan nie en het ons onder die vlerk geneem en saam-saam het ons saam met die groot seuns van die Swartland begin kuier. Dit is ook hier waar ons vir Rian Kuyk raak loop, ‘n gereelde besoeker aan die Willeklong webwerf.

Elizca & Ronel het gereken as daar nie jong manne is om meer te dans nie gaan hulle maar die ouderdomsbeperking laat val en die ou ooms van die stoele af dans. Het lanklaas so ‘n gesellige klomp mense op een plek gesien en daar was niks van “buitestaanders” nie. As jy daar is dan is jy deel.

Later die aand toe dinge begin tot ‘n einde kom by die terrein het die hele vraggie “vasbyters” na die local Bush Pub beweeg. Nou nie eintlik ‘n Bush Pub nie, maar dit dien een en dieselfde doel en dit is om die samesyn verder te vat. Andries en sy trawante het die voggies laat loop en toe hulle vroeg Saterdagoggend die halt roep, toe kon mens die verligting op my gevreet sommer sien, want as dinge so moes aangegaan het sou dit ‘n pynlike ervaring gewees het as daai son sy strale wys.

Met geen beplanning (soos altyd) het ons sommer besluit die veiligste plek vir kamp sal voor die ingang van die terrein ingang wees. Maar wie wil nou 03h00 die oggend tent opslaan en in ons toestand van onnosilheid, besluit ons dat daar genoeg plek vir 4 agter die bakkie gaan wees. Tigger is ‘n groot seun, maar so ook ek en Vicky. Kon darem ‘n oog of 5 toe kry, maar toe Karel son sy eerste strale wys, toe word daar onmiddelik op gestaan.

Met Rugby op die gedagtes skiet ons reguit Porterville Hotel toe waar ‘n vinnige ietsie vir die maag gegryp is. Elizca en Ronel het gou-gou die hotel se gyser leeg gestort, terwyl ek en Vic hulpeloos staan en kyk hoe die Bokke se Tri Nations drome weg glip…kom ons los die rugby, want die Aussies koer sommer my moer as ek net terug dink daaraan.

By die skou het dinge lekker begin loop. Orals was stalletjies met die gemeenskap en omliggende omgewing se produkte. Eerste ding wat my oog gevang het was die groot plaas implemente. Dammit, ek het soos ‘n laaitie gelyk soos ek my groot 105kg liggaam oor die trekkers en stropers sleep. Ek kon ongelukkig nie ‘n sleutel in een vind nie, want ek sou regtig wou voel of hy beter trek as Tigger se 2.5 engin.

Die main gedeelte van die skou was natuurlik die veld voor die paviljoen, waar die manne gespog het met hulle perde, ou trekkers en ou motors. Oud en jonk het om die reelings gehang en mens kon sien hoe pa, ma en ‘n vraggie stoutgoed die dag geniet.

Skoue is nie rock festivals waar tonne voggies en bekende rock bands hulle ding doen nie. Hier is nie tonne single jong mense wat rond hol op soek na ‘n lekker tyd nie. Maar meer ‘n geleentheid vir die boere en die mense van die dorp om weer lekker saam te kuier en so bietjie te spog met hulle speelgoed.

Net so na 14h00 word daar besluit dat ons ‘n nuwe PVA (Plan Van Aksie) het. Tigger het begin alleen word in die parkeerarea en die seun het die lang pad gesoek. Kan nou nie die knaap laat staan en huil voor al die boere nie, dus is daar gou-gou opgepak en die pad gevat.

Van Porterville was dit deur Gouda, by die T-aansluiting regs, deur die pas en na die Antieke winkel kry jy ‘n bordjie wat sê Witzenberg op jou linkerkant. Vic was al daar in sy dom jare en die man het net lof gehad vir die plekkie.

Witzenberg is ‘n wildsplaas wat baie bekend is vir sy konferensies en die 17 huisies wat wyd verspreid is op die plaas. Na ‘n vinnige hello van oom Eugene wat die eienaar is, het die oom aangebied dat ons sommer verniet daar kan kamp.

“Kry soveel hout soos wat julle nodig het en maak of die plek julle sin is. Kom skreeu maar as julle iets nodig het”

Het so kick-ass plekkie onder die bome gekry direk langs die rivier en onmiddelik was die vuur aangesteek. Dit was ons en die natuur en niks anders nie. Die stilte vat so ‘n tydjie om gewoond aan te raak en mens kan nog die boeremusiek van die skou in jou ore hoor suis. Maar sodra dit inskop dan voel jy so effe ongemaklik, maar terselfdetyd beweeg jou daaglikse koer meter so diep in groen dat jy verby kalm is.

Tye soos die laat jou besef dat daar meer in die lewe is as daai steriotiepe lewe wat ons soms so maklik gewoond aan raak. Hier sit ek saam met van die k*kste geselskap (jokes) en ek voel een met myself. Met ‘n koppie sawelyf in die hand, vuur wat lekker knetter en vriende wat mekaar vermaak met hulle simpel persoonlikhede voel ek weereens die stout, stil Willeklong in my en ek dank die Vader vir die geleenthede wat hy ons gun.

Duskant 20h00 word die laaste koppie sawelyf weg gegooi en 4 vriende besluit dat genoeg is genoeg en komberse word oor die koppe getrek. Sondagoggend word ons wakker met ‘n nat, drippende prentjie. Na ontbyt en koffie word alles af geslaan en opgepak en die pad terug huis toe aangepak.

Oppad Ceres toe vat ons die Wolseley afdraai en skiet deur Bainskloof waar ‘n laaste koffie bo by die hotel geniet was voor ons die laaste stretch via Wellington gevat het. ‘n Volle naweek volwaar en een waar ek net weer besef het hoe wonderlik ons land en sy mense is, dat daar niks meer lekkerder is as mense jou met ope arms ontmoet nie.

4 Comments

  1. Helma Snyman

    Hi Ek verstaan daar is in September ‘n landbou skou by julle – kan julle vir my meer inligting stuur inverband met dit asb.

    1. Henry Jonker

      Hi Helma,

      Skuus, maar ek het geen meer idee wanneer hul die skou hou en of dit nog bestaan nie. Hoop jy kom reg.

  2. Cecilia

    Ek wil graag met iemand praat wat die skou organiseer.
    My nommer is 084 444 3840 indien u vir my ‘n kontak naam en nommer kan stuur wat ek
    ek kan skakel.

    Dankie
    Groete,

    1. Henry Jonker

      Hi Cecilia,

      Ek het nou op Facebook gaan kyk en dit lyk of die skou weer gaan plaas vind.

      Loer gerus na https://www.facebook.com/groups/1117900448273483/

      ‘n Natasha Roelofse het die volgende genoem: “Portervlle Skou is weer op dreef en ons beoog om skou te hou vanaf 1 tot 3 September 2016. Enige persone wat wil betrokke word is meer as welkom ons volgende beplannings vergadering is Donderdag 30 Junie om 19:00 by die Skougronde.”

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *