Blog

Weskus Kuslyn 4×4 Toer

Weskus Kuslyn 4×4 Toer

Saterdag, 19 November 2016, kom 5 van ons bymekaar om 1) ʼn paar koues saam te geniet, en 2) meer belangrik om ʼn datum te finaliseer vir ons Weskus kuslyn 4×4 toer.

Definitief nie ons moeders se mooiste kinders nie, maar almal het wel dieselfde lus vir ʼn groot avontuur na die vreemde en dus is beplanning nie van kardinale belang nie, want beplanning vorm hoe ʼn trip moet beloop en dit is die laaste van ons behoeftes. Ons weet waar ons wil begin en waar en wanneer ons tuis moet wees. Die gedeelte in die middel word bepaal soos daar besluit word as ons om ʼn knetterende vuur met nog ʼn paar koues staan.

17 – 20 Maart 2017 sou die datum wees waar hierdie avontuur hom sou afspeel. Ongelukkig moes Paul Laas & Frans Laubscher ontrek as gevolg van redes buite hul beheer. Alhoewel dit ʼn slag vir ons was, was dit terselfde tyd nie ʼn slegte ding nie, want 1) Paul se laat aand drink gewoontes het vele manne al skade aangedoen, en 2) Frans se rekord gebruik van brandhout kan ook skade maak aan so ʼn trip se hout voorraad.

Jacques het met die voorstel gekom dat hy ʼn lang, maergat vriend het wat glo sout van die aarde is en wat perfek sal in pas. Met die dat Jacques een fris bliksem is, het beide ek en Johan nie regtig die voorstel teen gestaan nie, want ons hou daarvan om ons voortande in foto’s te hê. Die keuse is gemaak en die einste lang, maergat (of Lourens Hugo soos sy ouers hom ken) gaan by ons span aansluit.

Finale span is dus soos volg:

  1. Jacques Groenewald – Toyota Hilux bakkie
  2. Johan Dreyer – Isuzu bakkie 3.2 V6
  3. Lourens Hugo – Toyota Hilux bakkie
  4. Ek en Jean – Land Cruiser 80 Series

Vrydagmiddag, 17 Maart, kom 4 avontuurlustige manne + natuurlik Jean (6 jaar oud), wat al vir maande nie kan ophou vra wanneer ons gaan ry nie, by Jacques-hulle op die plaas by mekaar.

Weskus (3)

Jacques het vooraf gereël dat ons ʼn vinnige versnaperinkie kan geniet by hulle nuwe restaurant, Villamar, voor ons die lang pad Boulders Baai via Garies aanpak. Geen mens kan mos op ʼn leë maag ry nie.

Soos ons konvooi deur Wellington hardloop begin die VHF radio’s lewe kry en die opgewondenheid in elke voertuig kan uit sy nate bars.

By Garies word die voertuie vir die laaste keer vol gemaak voor ons weer op die N7 klim vir ʼn paar kilometers voor ons links draai op die grond pad na Namaqua Nasionale Park.

+/-70km verder op die grond pad draai ons links by die park hek in. Teen die tyd was die wêreld al donker om ons. Die sanderige twee spoor pad word gevolg tot ons by Boulders Baai aankom. Voertuie word in ʼn laer getrek voor daar vuur aangesteek word agter ‘n muur skuiling. Die dors is groot en kort voor lank is die glase, wat Lourens spesiaal laat maak het, vol van Afrika se lekkerste “donker” vog. Met roosters vol skaap chops, wors + ʼn vet rib & glase vol vog word die nag om gepraat met kampvuur geselsies.

Saterdagoggend, 18 Maart, en almal is vroeg uit die tente. Met ʼn man wie in sekere geledere bekend staan as Koffie Jacques weet jy dat die koffie wat soggens geniet gaan word saam die beskuit nie sommer die van jou local koeka shop gaan wees nie. Met koffie & beskuit wat iets van die verlede is begin die kamp stadig op geslaan te word.

Weskus (18)

Kort voor lank en die konvooi was weer aan die beweeg. Ons eerste stop vir die dag sou by die Spoegrivier Grotte wees, wat beteken ons moes so paar km terug ry op die grond pad en dan links draai op die sand pad wat dan loop tot by die grotte.

Terwyl almal die grotte aanskou en ʼn koue bier geniet maak Lourens se “drone” ʼn verskyning. Hierdie was my 1st bekendstelling aan “drones”. Ek het nog nooit ʼn belangstelling daaraan getoon nie, maar na hierdie avontuur het ek gesien die ongelooflike waarde wat dit bring aan enige avontuur.

Weskus (48)

Van die grotte het ons al langs die kus Suidwaarts gekronkel. Soms vat die GPS jou tot op die strand waar jy ʼn km of 2 op die strand ry voor jy weer links beweeg tot anderkant die duine. Orals word daar gestop om die ongelooflike uitsigte te geniet.

Duskant een van die vele baadjies waar ons verby ry kom ons by ʼn kolonie robbe uit. Een rob besluit hy gaan Jacques ʼn “go” gee en kyk hoe vinnig Jacques sy lyfie’tjietjietjie kan beweeg toe die rob hom begin jaag.

By een van die vele wind skuilings langs die kus word daar gestop en vuur aan gesteek vir middagete. Met fris hamburgers + koue bier op die menu was daar geen klagtes of enige negatiewe terugvoer nie.

Weskus (68)

Soos ons die kus af toer het Lourens daai klein wit vlieg masjien gereeld die lig op gestuur om foto’s en video clips van die konvooi te neem. Ongelooflik, dis al wat ek kan se van daai stukkie tegnologie. Teen dié tyd was Jacques al telkemale gevra hoekom hy NOU EERS vir Lourens aan ons voorgestel het. ʼn Knaap met so speelding se naam moet mos 1st op die lys geskribbel word vir die volgende avontuur.

Weskus (93)

Laat middag en Groenrivermond se vuurtoring maak sy verskyning in die verte. Na die nodige papierwerk by die park se kantore beweeg ons tot teen die kus waar ons kamp opslaan by een van die wind skuilings. Teen dié tyd is Jean se lus vir visvang al onbeheerbaar en al is die see onstuimig kan Lourens ook nie sy lus keer om ook so een of twee keer die lyn te gaan nat maak nie.

Weskus (147)

Soos altyd is die vuur en eerste rondte vog altyd die belangrikste. Die dag se stof, sand & bier smaak moet afgewas word met ietsie met meer byt en wat angs kan voorkom.

Met dié dat ek die daktent reg trek roep Jean my vanuit die tent. Dog ons het dalk ʼn passasier (gedierte) langs die pad by gekry en die twee het mekaar nou in die tent ontmoet, maar toe ek opklim glimlag die knaap breed: “ WOW pa, kyk hierdie view!”.

Weskus (113)

Die see se vars reuk vul die tent en Jean lyk of hy in 2de hemel is soos hy op sy maag lê en uit kyk oor die branders vanuit ons daktent.

ʼn Kombinasie van vars gebakte brood, skaap sterte, pofadder, wors, aartappels, ontbeende rib + skilpadjies vorm deel van ons aand se gebalanseerde dieet. Soos ons die son dophou terwyl hy sy laaste strale oor die oseaan gooi kan mens nie ophou dink hoe bevoorreg mens is om die ongelooflike natuurskoon te kan beleef nie.

Sondagoggend, 19 Maart, en die oggend roetine van koffie en beskuit geniet, skottelgoed was, skoonmaak en oppak is weer op dreef.

Soos die vorige dag beweeg ons al Suidwaarts teen die kus af en elke afdraai word verken. Met dié dat Groenrivermond die einde van die Nasionale Park was, was wind skuilings en “longdrops” iets van die verlede. Soos die pad ál langs die kuslyn kronkel is daar plekkies waar mense al gekamp het. Ongelukkig is hierdie gedeelte nie onder die parkeraad se bestuur nie, so sommige bliksems (skuus vir die keuse van taal, maar ek weet nie hoe om dit ligter te stel nie) dink dit sal okay wees om hulle sakke vullis net daar te los.

Jean en Johan was op middagete (jaffels + vrugteslaai) diens terwyl Lourens & Jacques bietjie die Weskus water gaan voel het.

Toe die dag se hitte geknak het, trek die konvooi tussen twee duine in om laer te trek vir die aand. Na ʼn vinnige verkenning van die see, word daar besluit dat dit tyd is om die lang latte uit te kry en te kyk of ons ietsie uit die see kan trek.

Weskus (195)

Na ʼn uur of wat roep die koue biere by die kamp ons. Son is reeds besig om sy laaste paar strale uit te pak so die vuur moet begin lewe kry.

Daar was besluit om voort te gaan met ons gebalanseerde dieet – skenkel pot, skilpadjies & wors. Teen die tyd het Jean nou al ʼn liefde begin opbou vir skilpadjies, so die manne moes maar vat om seker te maak almal kry, want anders werk daai klein knaap hulle deur.

Weskus (208)

Maandagoggend, 20 Maart, en daar word besluit om vir Strandfontein via Lutzville te stoot waar ʼn warm shower vir ons gaan wag. Maar voor ons daai berderfie gaan geniet was daar nog ʼn paar sand afdraai paadjies wat geniet moes word voor ons op die grond pad klim wat aansluit met die R363. By Lutzville, en ons word gegroet met ʼn kombinasie van ʼn stof storm & donderweer/reën terwyl ons die voertuie vol maak.

Van hier is dit teer pad tot by Strandfontein via die R362. Nadat kamp op geslaan is by die Perdeskoen kampterrein word daar ʼn vinnige “recce” gedoen van die strand toe daar ʼn supertube gewaar word. Jean het amper uit sy nate gespring toe die oom noem hy is nog oop en ons moet lywe kom nat maak. So gevra – so gemaak.

Weskus (235)

Alhoewel die avontuur einde se kant toe staan het die joligheid en kuier om die vuur geensins spoed verloor nie. Met dié dat ons almal vir ʼn slag weer selfoon sein het, is die geliefdes gerusgestel dat almal en alles nog okay was.

Groot steaks en swartpot chips was op die spyskaart. Die dag se gebeure word in detail bespreek om die kampvuur terwyl almal ʼn fris, koue, verfrissende glasie met houding geniet. Lourens en sy verrassings kry ook nie einde nie, want kort voor lank ruk die knaap daar ʼn kort, dik botteltjie (oom Jagermeister) uit wat bietjie die sinusse skoon skiet. Soos die gesegde gaan – “and the rest was history” haha.

Weskus (243)

Dinsdagoggend, 21 Maart, en die realiteit slaan hard soos ons huiswaarts toe staan. Die radio’s is baie stiller en almal herleef die vorige paar dae op hulle eie manier. By Lamberts Baai word middagete geniet by ʼn restaurant by die hawe voor daar weer verder gestoot word.

By Veldrif draai ons links op die R27 Malmesbury se kant toe via Hopefield. Die son slaan ons hard en die kook naald het lank op 42 grade gehang. Die paar dae se avonture het sy impak op Jean gemaak en ek kan sien die knaap is moeg soos hy langs my lê in die trok. Ek dink die verlange na sy ma en broer lê ook maak vlak.

Terug in Wellington word daar blad geskud voor elk huiswaarts toe skiet.

Dit was ʼn voorreg manne en ek hoop die volgende een is gou weer om die draai.

Kliek hier vir meer fotos van hierdie avontuur.

4 Comments

  1. Jaco

    Lekker manne! Die Weskus bly ñ bekoring en het beslis die mooiste sonsondergange. Ek kuier so 3 maal per jaar daar. Augustus beslis die beste tyd om daar te wees en die blomme te geniet. Skilpad nasionale park dan die mooiste. Isabella restaurant in Lambertsbaai hawe bly koning met daai weskus slaai van hulle.

    1. Henry Jonker

      Dagse Jaco. Man na die trip wil ek definitief meer gereeld daar kom. Ongelooflik en ongerep. Waar sit Skilpad nasionale park?

  2. Vic

    Baie nice kerels! Ons was so tydjie terug ook deur die park. n Weggesteekte juweel van n stukkie aarde. Kom ons hoop dit bly so en die publiek pas dit op. Jaco, kan net dink hoe dit blommetyd moet lyk. Henry, ek sal jou moet leer hengel 😝

    1. Henry Jonker

      Stem 100% saam Vic. Die park is ongelooflik skoon en ongerep, maar Suid van Groenrivier het ons baie vullis gekry. Kan nie verstaan hoe mense net kan kamp en dan hul vol swart sakke net daar kan los nie.

      Ja jy sal maar moet kom help ou maat – kry darem die sinker so 5m van my darem af. Mense om my is nogsteeds in gevaar, maar hey elke sport het mos nou maar sy besering’tjietjietjies!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *