About

Vir ‘n ou wat net effens grys raak bo die ore, het ek al baie dinge wat die wêreld bied beleef. Die lewe bestaan uit verskillende paaie. Kom lees saam hoe ek my reis tot hier gemaak het…

Gebore en getoë in Oos-Londen waarna ek met die eerste geleentheid my warm bed en kos by die huis verruil het vir Pretoria waar ek myself met die Suid Afrikaanse Lugmag verenig het. Om uit ‘n familie van militêre en polisie bevelvoerders te kom het natuurlik die na-skoolse opsies van ‘n loopbaan uiters vergemaklik. Soos enige rekruut was my droom om ‘n Militêre Attaché posisie in Frankryk los te slaan, maar rasionalisering het my droom en ook die drome van ander verskuif. Kort voor lank het ek myself in die IT bedryf bevind waar ek vinnig besef het dat mens maklik meer as een droom kan bewaarheid in jou lewe.

Country musiek, ‘n knetterende kampvuur in die geselskap van jou vriende, ‘n yskoue bier om die stof uit jou mond te was, ons land en sy fantastiese mense is net ‘n paar goed wat my hoendervleis gee en my passie vir die lewe beklemtoon. Avonture word gedurig oor naweke gehardloop en dis ongelooflik hoe die kleinste dorpie op die kortste grondpad die middel van jou bestaan kan word.

Ek is met ‘n wonderlike vrou, Marli, getroud en vir ‘n beter lewensmaat kon ek nie gevra het nie. Ons familie het 7 April 2010 & 11 April 2014 ryker geword met 2 ongelooflike seuntjies: Jean & Lian. ’n Groter geskenk van God kon ons nie gevra het nie en elke aand gaan ons op ons knieë om dankie te sê vir hierdie wonderlike gawes. Saam gaan ons vier en natuurlik die res van die familie (Pepsi, Antjie en Basjan) nog ver paaie stap en berge versit, letterlik.

Op die ou end van die dag is ek ‘n doodnormale ou wat hou van chutney braaivleis, avonture, droogmaak, opmaak, vriende, kuiers en als wat gepaard gaan met goeie tye.

Ek gaan nie jou gat lek nie, so lees/snuffel verder en hopelik sien ek jou gou.