Wie is ek?


Vir ‘n ou wat net effens grys raak bo die ore, het ek al baie dinge wat die wêreld bied beleef. Die lewe bestaan uit verskillende paaie. Kom lees saam hoe ek my reis tot hier gemaak het…

Gebore en getoë in Oos-Londen waarna ek met die eerste geleentheid my warm bed en kos by die huis verruil het vir Pretoria waar ek myself met die Suid Afrikaanse Lugmag verenig het. Om uit ‘n familie van militêre en polisie bevelvoerders te kom het natuurlik die na-skoolse opsies van ‘n loopbaan uiters vergemaklik. Soos enige rekruut was my droom om ‘n Militere Attachè posisie in Frankryk los te slaan, maar rasionalisering het my droom en ook die drome van ander verskuif. Kort voor lank het ek myself in die IT bedryf bevind waar ek vinnig besef het dat mens maklik meer as een droom kan bewaarheid in jou lewe.

Januarie 2005 het ek Willeklong op die been gebring en tot vandag toe nog is dit een van die grootste uitdagings wat ek al aangepak het. Om ‘n handelsmerk en 'n gemeenskap te bou was nie kinderspeletjies nie, maar ek is bevoorreg deur omring te wees met mense wat daarin glo.

Afrikaanse treffers, dop en tjop in die geselskap van jou vriende, ‘n yskoue brannas, ons land en sy fantastiese mense is net ‘n paar goed wat my hoendervleis gee en my passie vir die lewe beklemtoon. Willeklong trips oor naweke word gedurig gehardloop en dis great hoe die kleinste dorpie op die kortste grondpad die middel van jou bestaan kan word.

Ek is met 'n wonderlike vrou, Marli, getroud en vir ‘n beter lewensmaat kon ek nie gevra het nie. Saam gaan ons en natuurlik ons twee klonkies (Antjie en Basjan – Jack Russels) nog ver paaie stap en berge versit, letterlik.

Op die ou end van die dag is ek ‘n doodnormale ou wat hou van chutney braaivleis, avonture, droogmaak, opmaak, vriende, kuiers en als wat gepaard gaan met goeie tye.

Ek gaan nie jou gat lek nie, so check my site uit en hopelik sien ek jou gou.

Tuiste  |   Wie is ek?  |   Artikels  |   Fotos  |   Video clips  |   Gasteboek  |   Kontak
Kopiereg © Henry Jonker 2007. Alle regte voorbehou.
Besoek die tuiste van WK